
Ondanks die droogte en nypende watertekorte lyk die meeste wingerde beter as die vorige seisoen en wynboere kan hulle regmaak om ’n soortgelyke oes as verlede jaar in te samel.
’n Raps meer as 1,4 mijoen ton wyndruiwe is verlede jaar geoes. Dit was ’n 5%-daling teenoor die vorige jaar, het mnr. Francois Viljoen, hoof van wingerdboukundige dienste by VinPro, tydens dié organisasie se jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad gesê.
Die oesskatting is tydens die eerste week van Januarie gedoen. “Die droogte en klimaat sal oor die volgende agt weke die finale sê hê,” het Viljoen gesê.
Volgens hom is die groter damme se watervlakke kritiek laag. “Boere het darem tot dusver besproeiingswater tot hul beskikking gehad om aan die wingerde se behoeftes te kon voldoen. Baie van die wingerde lyk eintlik nog heel goed. Selfs die droëlandwingerde lyk beter as verlede jaar, maar hulle hang aan ’n draadjie. Gewoonlik bring reën in oestyd sy eie uitdagings, maar ek dink nie enige wynmaker of wingerdboukundige sal nou ‘nee’ sê vir reën nie.”
Droë weer - gesonde wingerde
Die droë weer het wel gesorg vir baie gesonde wingerde. Gevolglik was dit nie vir boere nodig om so baie chemikalieë te spuit nie.
“Die groei is ook in balans, wat minder arbeid vereis het. Die kleiner korrels lei ook tot meer intense geure wat beter gehalte wyn oplewer.”
Volgens Viljoen was die vorige winter laat en kort. Koue en reën het eers in die eerste week van Junie opgedaag. “Uiteindelik het ons genoeg koue eenhede in die meeste wingerde gehad, maar ons het ook vir die tweede jaar agtereenvolgens 40% minder reën as die langtermynsyfers gehad. Ons damme was nie op kapasiteit nie.”
Die koel lenteweer het wingerde ongelyk laat bot. Die groei aan die begin van die seisoen was ook baie ongelyk.
Droogste lente
“Dit was een van die droogste lentes nog. Die ongelyke bot en blom – selfs op dieselfde stok – het in baie gevalle aanleiding gegee tot hen-en-kuikens (millerandage).”
Die somer was ook sowat twee maande laat, maar toe dit uiteindelik arriveer, het dit ’n goeie skoot hitte en woeste suidoostewinde gebring. Dit het die wingerd se groei laat afneem.
“Die hitte en wind het die wingerde se waterverbruik laat toeneem,” het Viljoen gesê.