
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het ’n spesiale gesant aangestel om aandag te gee aan Amerikaanse hoenderboere se dreigemente om Suid-Afrika uit die Amerikaanse wet oor groei en ontwikkeling in Afrika (Agoa) te hou omdat hulle nie hierheen kan uitvoer nie.
Teenstortingstariewe op Amerikaanse hoenderprodukte is al sowat 15 jaar in plek. Met Agoa wat einde September vanjaar verval, het Davies het nou mnr. Faizel Ismail, voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur tot die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), aangestel om die kwessie op te los. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het die aanstelling verwelkom.
Mnr. Kevin Lovell, hoof- uitvoerende beampte, sê dit is goed dat Davies die Suid-Afrikaanse span versterk met iemand wat bekwaam is om handelsonderhandelinge te voer. Lovell verwag om produktiewe gesprekke met Ismail te kan voer oor hoe ’n oplossing gevind kan word “sonder dat die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf te swaar kry”.
Luidens die koerant Business Report het Davies onlangs gesê die twee lande se pluimveeverenigings werk aan ’n program wat meer toegang vir Amerikaanse produkte tot Suid-Afrika sal bied, met ’n ontwikkelingselement wat groter belegging, opleiding, vaardigheidsontwikkeling en steun vir handel in Afrika sal behels.
Met Ismail se aanstelling kry die Suid-Afrikaanse span ’n deurwinterde onderhandelaar. Volgens sy webblad het hy Suid-Afrika se onderhandelinge in die WHO sedert 2002 gelei en was voorsitter van verskeie WHO-komitees. Ander senior posisies wat hy beklee het, was ministeriële raadgewer en adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Handel en Nywerheid.
Hy het verskeie navorsingsartikels en twee boeke geskryf en het ’n BA- en LLB-graad asook ’n M-graad in filosofie. In die jare tagtig en negentig was hy ’n anti-apartheidsaktivis en betrokke by vakbonde. – CARIEN KRUGER