Die reaksie op regter Colin Lamont se uitspraak oor die “Skiet die boer”-lied plaas die kollig op die diepe verdeeldheid wat steeds tussen swart en wit Suid-Afrikaners voorkom, meen die FW de Klerk-stigting.
Verlof om appèl aan te teken teen dieGelykheidshof se bevinding dat “Skiet die boer” haatspraak is, is aan die ANC en mnr. Julius Malema toegestaan.
Die De Klerk-stigting meen ’n behoefte bestaan aan ’n gesprek oor haatspraak, want die meeste wit Suid-Afrikaners beskou die uitspraak as ’n bevestiging van hul mening dat die lied op haatspraak neerkom. Swart Suid-Afrikaners aan die ander kant, het die uitspraak uitdruklik verwerp as ’n aanval op ’n kernelement van hul struggle-herkoms.
Die stigting sê hoewel die reaksie van die ANC, sy jeugliga en ander faksies voorspelbaar was, behoort die opmerkings wat me. Jessie Duarte, nasionale uitvoerende komiteelid (NUK) van die ANC, verlede week gemaak het in ’n onderhoud met e-TV, onder die grondwetlike soeklig geplaas te word.
Sy het in die onderhoud aan e-TV-nuus gesê dat “die ANC bekommerd is oor die misbruik van die Gelykheidshof” en gevra of “’n klagte deur ’n belanghebbende groep so klein soos AfriForum” ernstig opgeneem behoort te word. Sy het gevra hoe Afrikaners sal voel as “ons die afskuwelike Voortrekker-monument sou kritiseer” wat “baie neerhalend is teenoor swart Suid-Afrikaners”. Duarte het gesê dat “die beslissing onmoontlik sal wees om te implementeer, dat AfriForum nasiebou afbreek en dat die lied ’n plek het in die geskiedenis en as sodanig gerespekteer moet word”.
Die stigting meen dit is moeilik om in te sien hoe AfriForum se aansoek aan die Gelykheidshof gesien kan word as ’n poging om afbreuk te doen aan nasiebou.
22 September 2011