
Melkkopers toon genoeg belangstelling in termynkontrakte vir onverwerkte melk.
“Ons wil graag so 'n kontrak 'n kans gee, maar die mark sal uiteindelik die sukses daarvan bepaal,” sê mnr. Chris Sturgess, hoof van die JSE se mark vir afgeleide kommoditeite (voorheen bekend as Safex).
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het die JSE genader om 'n termynkontrak te ontwikkel wat melkboere kan gebruik om hul prysrisiko’s te verskans.
Belangstelling
Sturgess het by die JSE se stalletjie by die Nampo-oesdag gesê die JSE het met verskeie rolspelers gesprekke gehad en daar is genoeg belangstelling.
“Ons het met 'n hele klomp kopers gesels. Party het nie belang gestel nie, maar ander het gesê ‘hoekom nie?’.
“Ons is bereid om tyd aan die voorbereiding van so 'n kontrak te bestee.”
Sturgess sê daar is vier melkkopers in die Suid-Kaap met wie daar nou verder gesels word.
Die eerste stap sal wees om 'n ooreenkoms oor nie-bekendmaking te sluit, sodat die kopers die gemoedsrus kan hê dat die prysinligting wat hulle aan die JSE gee, vertroulik hanteer sal word.
“Die JSE kan dan al die inligting konsolideer en sien of die indeksprys inderdaad as 'n goeie verskansingsmeganisme gaan werk,” sê Sturgess.
Vertroue
Die volgende stap sal wees om met verskeie rolspelers te praat sodat 'n gestandaardiseerde kontrak opgestel kan word wat vir onverwerkte melk met verskillende gehaltevlakke gebruik kan word.
Sturgess sê die woltermynkontrakte, wat een kontrak behels selfs al word 80 verskillende soorte wol in the finale kontantprys ingesluit, bewys dat so iets wel moontlik is.
Hy sê dit gaan tyd neem om geleidelik deur gesprekvoering die vertroue van kopers en verkopers te wen.
“Die JSE spits vir eers sy aandag op die Suid-Kaap toe, maar as ons hier met prysinligting sukkel, kan ons 'n groter gebied in ag neem.”
Sturgess het benadruk dat die melkkontrakte kontant vereffen sal word en dat geen fisieke lewering betrokke is nie.