
Danksy samewerking tussen die polisie se eenhede vir veediefstal en landelike veiligheid, asook die Bethal-landbouvereniging is die 29 beeste wat op 1 Augustus op die plaas Vlakkuilen gesteel is, in die vroeë oggendure in ’n steengroef opgespoor.
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê hoewel geen verdagtes in hegtenis geneem is nie, was die boer bly om sy beeste terug te kry.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het sy waardering vir die samewerking tussen die polisie en boere uitgespreek. “Ons moedig gemeenskappe altyd aan om saam met die polisie te werk, want ons weet dat ons meer só kan behaal.”
Die voorval word steeds ondersoek. Die polisie versoek enigiemand met nuttige inligting om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.