Mense wat langs die Oranjerivier woon, is gewaarsku nadat ’n vragmotor wat chemikalieë vervoer het, in die rivier beland het. Mnr. Jors van der Westhuizen, ’n boer van die distrik Grootdrink, sê kort ná die ongeluk het verbruikersforums die boere en ander inwoners langs die rivier gewaarsku dat die water chemikalieë kan bevat.
“Hulle het gevra dat ons op die uitkyk vir vraghouers in die water moet wees. Ons moet dit nie self probeer uithaal nie, maar dit aanmeld. Ons is ook gewaarsku dat daar chemiese middels in die water kan wees,” sê Van der Westhuizen.
By Gariepdam
Luidens ’n berig op Nuus24.com het die vragmotor Woensdag (27 April) sowat 10 km van die Gariepdam af omgeslaan en in die rivier beland. Die bestuurder het na bewering ’n hartaanval gehad waarna hy beheer oor die vragmotor verloor het. Hy is tydens die voorval oorlede. Die twee passasiers in die vragmotor het oorleef. Een is ongedeerd, terwyl die ander een in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is.
Hoogs gevaarlik
Me. Elke de Witt, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, sê die chemikalieë is “hoogs gevaarlik” en reddingspanne van Bloemfontein werk onverpoos om die besoedeling in die rivier op te klaar. “Ons waarsku alle mense langs die rivier en almal wat die rivier se water gebruik, om uiters versigtig te wees en nie met die water in aanraking te kom nie,” sê De Witt.
Bron: Nuus24.com
28 April 2011