
Die ekonomiese aksieplan van mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, se fokus op die transformasie van die landboubedryf is nie net misplaas nie, maar onrealistiese tydlyne is gestel om die transformasie te laat gedy.
Die 14-punt aksieplan wat ’n opbloei van die Suid-Afrikaanse ekonomie moet stimuleer, is verwant aan die presidensiële negepuntplan wat groei moet aanwakker om broodnodige werk te skep.
Die herlewing van die waardeketting van die landbou en landbouverwerking vorm deel van die negepuntplan wat ook ondermeer industrialisasie, mynbou, die lok van beleggings en die groei van die oseaan-ekonomie en toerisme insluit.
Kwessies in die landbou
Die ingrypings wat Gigaba se plan spesifiek rondom kwessies in belang van die landbou stel, is om ’n beraad vir die finansiële sektor om transformasieteikens vir lae inkomste behuising en “transformasionele” landbou teen Desember vanjaar te hou. Dit is deel van die ingrypings in die finansiële sektor en belastingbeleid wat moet plaasvind.
Nóg ’n ingryping is dat die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit teen Oktober by die Parlement ingedien word nádat dit onder die oë van die nasionale gesamentlike strategiese sentrum (NJSC) en die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) was.
Hoewel hierdie wetsontwerp, wat die grootte van eiendomme moet beperk (grondplafonne) en grondbesit deur buitelanders moet reguleer, reeds in voorstelvorm is, is ’n maatskaplike-ekonomiese impak evaluering (SEIA) nog nie gepubliseer nie. Die SEIA, wat veronderstel is om die impak van die wetsontwerp te omskryf, insluitende ’n kosteberaming, is krities om ingeligte kommentaar op die wetsontwerp te kan lewer. Geskrewe kommentaar kon al wel teen die wetsontwerp ingedien word en het reeds gesluit.
Lyk oorambisieus
Wat Gigaba se tydlyn vir die indiening by die Parlement oorambisieus laat lyk, is dat die wetsontwerp nog deur die Nedlac-proses moet gaan. Hierdie proses alleen kan tot sowat drie maande neem. Hierna moet die Kabinet, waar dit etlike maande kan talm, dit nog goedkeur voordat dit na die Parlement gebring kan word.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by die landbousakekamer Agbiz, sê oor die algemeen doen die aksieplan nie genoeg om beleggersvertroue te wen nie siende dat sommige ekonomiese bekommernisse steeds nie aangespreek is nie, soos regeringsbestuur en die befondsing van staatsinstellings.
Rakende transformasie in die landbou-voedselbedryf, word die klem misplaas deur die fokus te plaas op die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit. Hierdie wetsontwerp bring onsekerheid siende dat dit voorkeur geniet bo bemagtigingsregulering soos die publisering van die finale sektorkodes vir Agri-SEB, sê Sihlobo.
Kan dit groei voortbring?
Volgens Sihlobo is dit nie seker hoe die ingrypings in die kort- tot mediumtermyn sigbare groei in die ekonomie kan voortbring nie.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder: regsintelligensie by Agbiz, wys ook uit dat hulle bekommerd is dat die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, Gigaba se antwoord is om die herverdeling van grond te bespoedig. Agbiz meen onder meer die wetgewing sal die land terug beweeg na ’n voorsieningsgebaseerde program van grondhervorming, in stede dat daar beweeg word na een wat op aanvraag gebaseer is.