
Mnr. Garth Simpson, die 67-jarige boer van Dundee in KwaZulu-Natal wat vyf maande in aanhouding was op ’n klag van moord, is op borgtog vrygelaat.
Luidens ’n verklaring deur AfriForum het regter Poyo Dlwata beslis dat daar onjuisthede was in die besluit om Simpson se borgtog te weier.
AfriForum het die aansoek om appèl teen die beslissing van die Glencoe-landdroshof om nie borgtog aan Simpson toe te staan nie, namens hom ingedien. Die aansoek is vandag (1 Maart) in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor. Sy saak kom weer op 15 Maart in die Glencoe-landdroshof voor.
“Ons verwelkom die hof se besluit om Simpson se borgtog toe te staan,” sê mnr. Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum, wat die hofverrigtinge bygewoon het. “Hy is nie ’n bedreiging vir enigiemand nie, het geen misdaadrekord nie en het uit selfverdediging opgetree.”
Hy voeg by dat howe besluite moet neem wat gegrond is op regsbeginsels en nie politiek nie.
“Die feit dat ’n lewe verloor is tydens die voorval is tragies, maar hoe die saak tot dusver hanteer is, is ’n growwe onreg wat reggestel moet word.”
Simpson word al sedert 28 September aangehou op ’n aanklag van moord nadat Qiniso Dlamini (17) doodgeskiet is tydens ’n beweerde bakleiery op Simpson se plaas. Daar is ook ’n klag van die beweerde onwettige besit van vuurwapens en ammunisie teen hom, het Landbouweekblad vroeër berig (https://www.landbou.com/landbou/nuus/glencoe-appel-teen-weiering-van-borgtog-binnekort-aangehoor-20220222).
AfriForum meen dat Simpson uit selfverdediging opgetree het en dat hy borgtog geweier is weens politieke inmenging in die saak. Hy is op 21 Oktober borgtog geweier in die plaaslike landdroshof.
AfriForum het besluit om Simpson met regshulp by te staan omdat dit lyk asof Simpson ’n goeie verweer openbaar en suksesvol kan wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en “nie die slagoffer sal word van holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie”.
AfriForum sê hy raak normaalweg nie by individuele sake betrokke nie, maar het ’n uitsondering gemaak omdat groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde raak nie, maar die breër gemeenskap.