
Die Verenigde State van Amerika (VSA) sou vanjaar meer wit mielies na Suid-Afrika (SA) wou uitvoer, maar SA se registrasieproses vir geneties gemodifiseerde (GM)-eienskappe is nie in strook met die VSA s'n nie.
Mnr. Kurt Schultz, die Amerikaanse graanraad se senior direkteur van globale strategieë, het in Washington aan 'n groep besoekende Suid-Afrikaanse joernaliste gesê Amerika het vanjaar relatief baie wit mielies na SA uitgevoer, maar dit was weens kwessies rondom GM beperk tot 16 955 ton.
Dit was nadat verteenwoordigers van die raad SA vroeër vanjaar besoek het om geleenthede vir onder meer witmielie-uitvoer te ondersoek, asook om vas te stel of SA sy GM-goedkeuringsprosesse sou verander, of weens die droogte 'n uitsondering sou maak.
Die Suid-Afrikaanse burokrasie is volgens Schultz 'n probleem. GM-goedkeuring kan nege tot 24 maande sloer. 'n Individuele Amerikaanse boer sou volgens hom ook nie spesiaal vir die Suid-Afrikaanse mark 'n goedgekeurde mielie plant nie. Internasionale handel is daarvoor té ingewikkeld.
Hoewel SA tradisioneel 'n mielie-uitvoerland is, het Schultz gesê daar is beslis geleenthede vir die land om graan in te voer wanneer hy 'n tekort of hoë pryse het.