
As die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) aan die brand geskop word, kan die arbeidsintensiewe olyfbedryf baie meer werksgeleenthede skep en plaaslike produkte kan die plek van swakker ingevoerde olyfolies op winkelrakke inneem.
Mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, het tydens die SA Olive-toekennings in die Paarl ’n pleidooi gelewer dat die Regering die NOP aktiveer.
“Ons ding mee teen gesubsidieerde ingevoerde olies, dikwels van swak gehalte, maar ons wen veld. Die persentasie van ons plaaslike markaandeel groei. Ons is ’n arbeidsintensiewe bedryf wat werkgeleenthede skep en boonop ons arbeidsmag oplei. Wat meer wil jy voor vra?”
Versoeke val op dowe ore
Die bedryf se versoeke aan die Regering om ’n teenvoeter vir tariewe te vind en om hom met generiese bemarking te help, het egter op dowe geval. Die aansoek om fondse sodat vervalste en verdagte ingevoerde olies getoets kan word, het ook dadels opgelewer.
“Tog groei ons steeds. Ten spyte van die droogte en geen bystand nie, verwag ons vanjaar ’n oes van 2,2 miljoen liter. Dis steeds net 0,02% van die wêreldproduksie. Ons verskaf net 40% van die olyfolie wat ons in die land verbruik. Ons gehalte is beter as verlede jaar en ons kompetisie-inskrywings het met meer as 20% toegeneem.”
Volgens hom is die olyfbedryf anders as die wyn- of appelbedrywe, wat ontstaan het uit staatsgereguleerde landbou-bemarkingsrade, of ’n lang geskiedenis van kommoditeitproduksie agter die rug het.
Op-en-wakker individue
“Ons word gedryf deur baanbrekers en op-en-wakker individue wat aan die voorpunt van private ondernemings staan. Ons het ons eie bedryf uitgebrei, ons beheermaatreëls in plek gesit en ons eie bedryf gereguleer.
“ ‘n Mens kan net wonder hoeveel meer ons sal regkry as regeringsbeleid in pas is met die potensiaal van die bedryf om geleenthede vir ons arbeidsmag te skep.”
Wilkinson sê dié toekennings moet ’n boodskap aan die Regering stuur op die NOP te aktiveer. Die bedryf slaag daarin om invoere te vervang en olyfolie-uitvoer neem toe.
Volgens hom is daar ook baie innovasie in die bedryf en kwekerye soek voortdurend oorsee na nuwe idees om plaaslik uit te voer.
* Lees die uitslae van die SA Olive-toekennings hier.