
Suikerprodusente loop hulself weer vas teen goedkoop invoere ondanks ’n stygende wêreldprys van suiker. Die invoertarief op suiker is op 10 Februarie verlaag na R0 per ton, omdat die dollar-gebaseerde verwysingsprys (DBVP) deur die wêreldprys ingehaal is. Dus, volgens die verwysingsprysvlakke, is geen beskerming nodig vir die plaaslike bedryf nie.
Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, mnr. Trix Trikam, meen egter die DBVP is nie op die regte vlak nie. “Invoere stroom reeds die land binne sedert die DBVP (in die middel van 2016) verlaag is. In die afgelope drie maande is daar reeds 110 000 ton suiker ingevoer teenoor die slegs 50 000 ton wat in die vorige produksietydperk ingevoer is.
“Die wêreldprys van suiker is ver onder die plaaslike produksiekoste weens swaar subsidies en ander produksie-ondersteuningsmeganismes wat produsente in die buiteland geniet en wat dus ’n verwronge internasionale mark tot gevolg het. In hierdie situasie het ’n ondoeltreffende tarief outomaties meer invoere tot gevolg ten koste van plaaslike produsente,” verduidelik Trikam.