Die trae deurgee van die lae vleispryse na verbruikers bly ‘n bron van kommer, sê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Mnr. André Ferreira, voorsitter van die RPO in die Vrystaat, sê dié kwessie was een van die hooftemas wat Woensdag, 2 Mei, tydens die organisasie se nasionale vergadering bespreek is.
Hy sê die organisasie sal voortgaan om inligting oor die gaping tussen boerepryse en verbruikerspryse met verbruikers te deel. “Dit is onverstaanbaar dat die prys aan die boer sedert die begin van die jaar gedaal het, maar in die kleinhandel bly vleispryse op dieselfde vlakke of het dit selfs gestyg.
Die verbruiker moet weet
“Ons wil hierdie inligting deurgee vir die verbruiker sodat hy kan weet dat hy op ‘n laer prys kan begin aanspraak maak,” aldus Ferreira.
Die prys wat ‘n boer vir ‘n kilogram vleis van ‘n speenkalf kry het sedert Januarie 2012 met sowat 28% gedaal. Ferreira sê die gemiddelde prys was rondom R19,50, en tans staan dit op sowat R15,30 per kilogram.
Volgens inligting wat nagegaan word wissel die prys vir beesfilet by kettingwinkels en slaghuise in ‘n woonbuurt in Bloemfontein tussen R142 en R149,99 per kg. In dieselfde kleinhandelpoel wissel ‘n kilogram kruisfilet rondom R90 per kg.
Verder sê Ferreira vrae bestaan ook oor die lae pryse aan boere. “Dit is nie asof daar ‘n groot ooraanbod vleis bestaan nie. Inteendeel, die persentasie dragtige diere het verlede jaar afgeneem in vergelyking met 2010, wat beteken minder diere is vanjaar beskikbaar.”
3 Mei 2012