
Die Departement van Energie het aangekondig dat dié verlagings van 6 Junie 2012 af in werking tree.
Volgens die departement kan dit aan 'n daling van $12 in die internasionale prys vir 'n vat olie toegeskryf word. Dié prys het tussen 25 April 2012 en 31 Mei van $120 per vat tot $108 per vat gedaal. Die afname word toegeskryf aan die feit dat Iran toestemming verleen het aan die Verenigde Nasies om sy kern-energie program te ondersoek.
In dieselfde tydperk het die rand egter swakker vertoon teenoor die dollar. Die swakste vlak wat die rand bereik het, was R8,10 teenoor die dollar, terwyl die sterkste verhandeling teen R7,85 teenoor die dollar aangeteken is. Die swakker rand het 'n oorverhaling van tussen 20c en 21c op die petrol en dieselpryse veroorsaak.
Verligting vir boere
Intussen verwelkom Agri SA die verlaging, en sê dit sal regstreekse en onmiddellike verligting aan boere bied wat hul brandstofaankope betref. Mnr. Dawie Maree, kommersiële bestuurder en ‘n ekonoom, sê dié daling sal egter nie onmiddellik in ander insetkoste te sien wees nie. “Ongelukkig in terme van ander insetkostes word dit nie noodwendig dadelik deurgegee nie. Boere (en verbruikers) moet dus nie dadelik 'n verligting in pryse verwag nie.”
Maree sê die swakker rand gaan nie noodwendig tot brandstofprys stygings in komende maande lei nie. “Die rand se verswakking is wel glad nie goeie nuus vir invoere nie, maar uitvoere kan weer baat daarby - dit is te sê as die vraag na ons produkte wel daar is.”