
Suid-Afrika se vraghouers is van die duurste ter wêreld. Dit het die Regering genoop om te kyk na die instelling van ’n ekonomiese reguleerder vir die spoornetwerk wat hom in staat sal stel om die regte tariewe vir vragvervoer te kan bepaal.
Pres. Jacob Zuma het vroeër in sy staatsrede aangekondig dat uitvoerders van vervaardigde goedere goedkoper tariewe sal betaal. Daarop het die hawereguleerder Transnet se beoogde verhoging van 18% vir dienste en geriewe tot net 2,76% in die huidige boekjaar verminder.
Dit dui op ’n besparing van R1 miljard. Mnr. Tau Morwe, uitvoerende hoof van Transnet se hawe-owerheid, was ’n spreker op die Afrika-landbousakeforum in Kaapstad. Hy het gesê vanaf April tot nou het die organisasie al R127 miljoen van dié R1 miljard bestee. Dit blyk dat die uitvoerprogram sloer.
Van Transnet se R300 miljard kapitaalbelegging vir die uitbreiding van die spoornetwerk, hawens en pyplyn-infrastruktuur gaan R200 miljard vir spoorvragvervoer. Altesame R150 miljard van die R200 miljard gaan vir algemene vrag. Hy het gesê oor die jare was grootmaat-kommoditeite, soos steenkool, mangaan en ystererts, die belangrikste aspek ten opsigte van die spoornetwerk.
Beleggings is nou nodig
“Daar was oor die jare nie belegging in algemene vrag, soos dié van die landbou, nie.” Volgens Morwe gaan dinge nou verander. Hy het gesê dat daar met die sektor beraadslaag word oor hoe die geld belê moet word. Daar word ook gekyk na die bepaling van pryse wat die Regering se vervaardigingsagenda sal ondersteun.
“In die verlede het ons ’n tariefstelsel gehad wat op toegevoegde waarde gebaseer was. Hoe duurder die goedere, hoe hoër die tarief. Ons hersien dit nou, want ons het eintlik die vervaardigers gestraf wat waarde tot hulle produkte gevoeg het.”
Alle operateurs by hawens en diensverskaffers sal gelisensieer word. In die volgende sewe jaar sal R47 miljard van die R300 miljard aan die hawe-owerheid bestee word, onder meer om sy vloot te vervang. In Kaapstad sal aandag daaraan gegee word om die vraghouervermoë te verhoog.
Dit is omdat die meeste van die landbouprodukte die hawe in vraghouers verlaat. Altesame R1,4 miljard sal oor die volgende sewe jaar aan dié hawe bestee word, het Morwe gesê.