‘n Goeie gees heers tans tussen die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Namibiese Landbou-unie (NLU) oor oplossings vir die moontlike onwettige vleishandel op die grens tussen Suid-Afrika en Namibië.
Luidens ‘n verklaring het die afvaardigings van die Vleisforum van Suid-Afrika, die RPO, die NLU en die maatskappy wat `n ondersoek oor onwettige vleishandel namens die RPO gedoen het, vroeër vandeesmaand vergader.
Volgens die verklaring is die bewerings van onwettige handel met vleis en vleisprodukte tussen die twee lande bespreek.
“Die doel was ook verder om die beweerde tekortkominge, indien enige, aan albei kante van die grens te identifiseer sodat die relevante instansies die nodige regstellings kan maak,” lui die verklaring.
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, sê hulle is baie tevrede met die positiewe gesindheid wat tussen die organisasies heers.”Ons gaan nou verder oor probleme gesels en maniere soek om tekortkominge aan te spreek.”
Verslag nog nie beskikbaar
Volgens die NLU is die verslag waarin die beweringe van ongerymdhede verskyn, nog nie aan hulle beskikbaar gemaak nie.
“Die RPO van Suid Afrika, die opdraggewer van Agri Inspec (wat die ondersoek gedoen het) en dus die eienaars van die verslae, het onderneem om by hulle volgende vergadering te besluit of die verslae aan Namibië beskikbaar gestel sal word,” aldus die NLU.
Kleynhans bedank
Intussen is dr. Hennie Kleynhans sedert 1 Januarie 2011 nie meer die besturende direkteur van Agri Inspec nie. Mnr. Bertus de Jongh, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê Kleynhans het verlede jaar uit die pos bedank.
Volgens De Jongh doen hy steeds kontrakwerk vir die MPO en hy is steeds op die direksie. Uitsprake wat Kleynhans verlede jaar oor van die ondersoeke in die verband gemaak het, het tot groot ontevredenheid gelei.
1 Februarie 2011