
Kenners en geleerdes van verskeie instansies het Woensdag, 3 Oktober 2012, in Centurion saamgekom om ’n memorandum van samewerking in die stryd teen dieresiektes in die land te onderteken. Die Tshwane Animal Health Cluster is terselfdertyd bekend gestel.
Die groep is ’n inisiatief wat deur die Tegnologie Innoveringsagentskap (TIA) gedryf word, en die vennote is die Landbounavorsingsraad (LNR), die Nasionale Navorsingstigting (NRF), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). Al die instansies in die groep is in die Tshwane metropolitaanse gebied geleë.
Mnr. Simphiwe Duma, hoof uitvoerende beampte, sê die stigting van die groep volg op die groot aantal dieresiektes wat die land die afgelope twee jaar teister. Suid-Afrika is tans in die greep van ’n bek-en-klouseer-uitbreking wat die land verlede jaar sy uitvoerstatus laat inboet het. Slenkdalkoors het die skaapbedryf in 2010 amper lamgelê, terwyl groot verliese ook verlede jaar aangeteken is. Nóg ’n siekte wat groot kommer veroorsaak het, was die voorkoms van Afrika-perdesiekte.
Ernstige probleme
Volgens Duma is een van die ernstige probleme wat die land se dieregesondheidbedryf in die gesig staar die groot aantal vakante poste in sleutelbedrywe. Sowat 37% van die land se staatsveeartsposte is tans vakant, terwyl 26% van die poste vir grensbeheer vakant is.
“ ’n Bedrag van R27 miljoen is ook vroeër toegestaan vir die herstel van die grensdraad tussen Mosambiek en Suid-Afrika, maar dit is steeds vervalle,” aldus Duma. Hy sê Suid-Afrika het nie entstof vir bek-en-klouseer nie, en is tans van Botswana vir dié entstof afhanklik.
Doelwitte
Al dié kwessies en meer het gelei tot die stigting van die groep. Duma sê een van hul doelwitte is om toe te sien dat die aantal wetenskaplikes in die land wat in dié veld spesialiseer toeneem. Hulle wil ook beter samewerking en verhoudings tussen die verskillende rolspelers bewerkstellig, en beter bestuur van dieresiektes ondersteun.
“Ons as die TIA wil Suid-Afrika se diere-entstof-produksiebedryf ’n wêreldleier maak. En ons wil opbrengs op ons belegging sien. Ek sê weer, ons wil opbrengs op ons belegging sien,” aldus Duma.
Die TIA sal in die toekoms die media en die publiek oor die werksaamhede van die groep inlig.