
Goeie oeste gee ’n hupstoot aan landboubesigheidsvertroue en dit is goed vir groei en beleggings, maar soms belemmer politieke uitsprake dié vertroue, sê mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz. Hy het deelnemers aan die tweejaarlikse kongres van die Droëboneprodusente-organisasie (DPO) op Bela-Bela toegespreek.
Die belangrikste risiko’s om in die kort tot medium termyn dop te hou, sluit in die wisselvallige verhouding tussen die rand en dollar, wat negatief op insetkoste kan inwerk aangesien die meeste insette ingevoer word, asook die afgradering van die Suid-Afrikaanse ekonomie deur graderingsagentskappe. Die land se buitelandse valutakredietgradering het tydens die presidentskap van mnr. Kgalema Motlanthe ’n hoogtepunt bereik, maar gedurende mnr. Jacob Zuma se tyd skerp gedaal.
Boere moet ook in aanmerking neem dat grondhervorming politieke spanning tussen aansporingsgebaseerde metodes en ’n meer radikale politieke benadering veroorsaak, terwyl die nuwe minimum loon boere en landboubesighede se salarisrekening sal verhoog.
Invoer en uitvoer
Sihlobo sê hoewel Suid-Afrika in die algemeen ’n netto-uitvoerder van landbouprodukte is, is hy is ’n netto-invoerder van peulgewasprodukte. Dié produkte kom hoofsaaklik vanaf China, Kanada, Ethiopië, Oekraïene, Botswana, Argentinië en Australië. Die grootste invoere was in 2003, 2007 en 2009 toe sowat 120 000 ton die land binnegekom het.
Uitvoere van landbouprodukte is grootliks vir Afrika, Europese Unie, Asië en Noord- en Suid-Amerika bestem, volgens Sihlobo. Sedert 2008 gaan die meeste uitvoere na Afrikalande, wat in 2009 ’n hoogtepunt van ongeveer $4,5 miljoen bedra het. In 2016 het dit sowat $3,8 miljoen beloop.
Die plaaslike landbou-arbeidsmag kan by groot oeste baat vind, maar die getal betrekkinge het die laaste jare baie gedaal vanaf ’n hoogtepunt van meer as 1,6 miljoen poste gedurende die 1950’s en 1960’s tot minder as 800 000 poste. Landbouwerkers maak tans net 6% van die totale arbeidsmag uit.