
Die landbou se arbeidsmag het in die laaste kwartaal van 2016 sterk gegroei, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en agrisake-intelligensie by Agbiz.
Hy sê Statistieke SA se jongste syfers wys die landbou se arbeidsmag was in die vierde kwartaal die grootste nog, sedert die basisjaar van 2008.
Werkgeleenthede in die sektor het van die derde tot die vierde kwartaal met 38 000 gegroei tot 'n totaal van 919 000. Dit is kwartaallikse groei van 4% en jaarlikse groei van 7%.
Werk in landbou is 6% van RSA
Sihlobo sê die feit dat landbouwerkgeleenthede sowat 6% van die totale werksmag verteenwoordig, wys die belangrike rol wat die sektor in die breër ekonomie speel. Sy arbeidsmag is groter as die mynbousektor s’n en soortgelyk aan die vervoerbedryf s’n.
Sihlobo sê die groei in die vierde kwartaal wys tot 'n mate die sektor het ná die 2015/’16-droogte teruggebons.
Die groei in werkgeleenthede in die sektor was hoofsaaklik by lewendehawe- en gewasboerderye, veeteelt, wildboerderye, asook see- en kusvisserye.
Lewendehawe en gewasboerdery
Met 588 793 werkgeleenthede (64%) is lewendehawe- en gewasboerderye die grootste bydraer. In die vierde kwartaal het die arbeidsmag hiér op 'n kwartaalgrondslag met 12% gegroei, veral danksy oesbedrywighede in tuinbou, spesifiek steenvrugte.
Groter bedrywighede in die somersaaigebiede het ook tot die styging bygedra.
Sihlobo sê meer slagtings in die vierde kwartaal in die lewendehawebedryf weens groter vraag rondom die feestyd, asook hoër voerkoste, kon moontlik bykomende werkgeleenthede geskep het.
Hoewel die werksgroei bemoedigend is, kan dit volgens hom moontlik van korte duur wees omdat sommige van die werknemers seisoenwerkers kon gewees het.