
Die verskaffing van klimatologiese dienste aan boere moet beide hulp en ondersteuning op ’n gereelde basis bied, aldus prof. Sue Walker, hoofnavorser in meteorolgie aan die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Grond, Water en Klimaat (LNR-ISCW). Sy het op ’n weerseminaar in Pretoria gepraat.
“Die LNR-ISCW wil ’n diens bied wat klimatologiese kennis, data en inligting vir klimaat-gebaseerde besluite en beplanning aan boere bied, om hulle te help om operasionele besluite rakende hulle boerderye betyds te kan neem. Dit help nie jy vertel vir ’n boer dit gaan more baie warm wees, maar daar is nie bykomende raad om hom van hulp te wees nie,” het sy gesê.
Walker meen dat ’n gaping bestaan tussen inligting wat deur die verskillende weerdienste verkry word en ’n doeltreffende manier om dit aan boere in bruikbare formaat te bied. “Ons moet meer dikwels met boere in die toekoms saamwerk in ’n raadgewende hoedanigheid om hulle van hulp te wees,” het sy gesê.
’n Kragtige netwerk tot landbou se voordeel
Walker het gesê die LNR-ISCW se grootste bates om boere te kan help lê in die magdom inligting wat die raad oor jare versamel het, asook in die kundige personeel van die LNR.
“Die Agro-Climate-netwerk en -databank stel die LNR in staat om nie net inligting te verskaf nie, maar om die beskikbare data te neem en waarde toe te voeg. So kan die LNR byvoorbeeld ’n waterbehoefte-indeks vir ’n spesifieke gebied opstel sodat boere presies kan weet hoeveel water hulle gewasse sal benodig, of ’n standaard-presipitasie indeks wat reënval help voorspel,” het sy verduidelik.
’n Ander manier om die inligting te gebruik is om modelle saam te stel wat die inligting gebruik om voorspellings te maak rakende die totale klimatologiese omstandighede van die boer.
“Die belangrikste element wat die laaste voorbeeld aanbetref is tyd. Die boer moet genoeg tyd kry om die nodige veranderinge in sy boerdery aan te bring ten einde volle voordeel uit die voorspellings te kan trek. Dit is waarom kommunikasie met boere so belangrik is. Ons wil graag met hulle skakel en by hulle leer uit hul ervaring. Daar is heelwat inligting wat op so manier uitgeruil kan word en wat die LNR kan help om boere van beter hulp te wees,” het prof. Walker gesê.