
’n Taakspan van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) gaan die volhoubaarheid van die waardeketting van die suiwelbedryf onder die loep neem.
Die taakspan, waarin die Regering, die georganiseerde arbeid en die suiwelbedryf verteenwoordig is, het op 4 Mei vergader om sy opdrag te bepaal.
Die suiwelbedryf word verteenwoordig deur Melk SA – mnre. Nico Fouché, uitvoerende hoof, en Godfrey Rathogwa, transformasiebestuurder – en sy lede, die Melkprodusente-organisasie (MPO) en die SA Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro).
Taakspan het reeds vergader
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, Sampro-hoof en leier van die sake-afvaardiging in die taakspan, sê 'n voorlopige opdrag is saamgestel, wat nou deur Nedlac se kamer vir handel en nywerheid goedgekeur moet word. Die taakspan, wat reeds twee keer vergader het en weer in Julie byeenkom, het intussen ’n werkwyse goedgekeur.
Dr. Chris van Dijk, MPO-hoof en lid van die taakspan, is optimisties dat die taakspan kan bydra om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker.
Die taakspan het tot stand gekom nadat mnr. Gielie de Kock, melkboer van Witsand in die Wes-Kaap en mnr. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris, verlede jaar ’n vergadering by die Elsenburg gehou het om oor onder meer die dalende getal melkboere te praat en die gevare wat dit vir werkgeleenthede inhou.
Ehrenreich klop aan by Nedlac
Ehrenreich het die kwessie na Nedlac geneem, wie se kamer vir handel en nywerheid ’n taakspan op die been gebring het.
De Kock het aan Landbouweekblad gesê hy hoop die uitkoms van die taakspan se werksaamhede sal wees dat die melkprys “van die boer tot by die verbruiker” ondersoek sal word.
Mnr. Sven Thomson, kommersiële melkboer van Swellendam, verteenwoordig die georganiseerde arbeid in die taakspan en sê hy is in dié unieke posisie “omdat die bestaande strukture in die bedryf nie die nodigheid gesien het om die probleme in die bedryf op dié vlak (van Nedlac) te bespreek nie”.
Kleiner melkboere
Thomson sê volgens die voorgestelde opdrag gaan die hele waardeketting bespreek word, ingesluit struikelblokke vir toetrede deur kleiner en opkomende melkboere en spesifiek ook transformasie in die verskillende dele van die ketting.
Dit is volgens hom belangrik om te bepaal of daar nog plek is vir kleiner boere in die melkbedryf. Wanneer ’n kleiner boer sy deure moet sluit, gaan daar volgens Thomson se berekeninge drie werkgeleenthede vir elke honderd koeie verlore.
Selfs al word die koeie deur ’n groter melkboer gekoop, verloor sowat 70% van arbeiders op die kleiner plaas hul werk, sê hy.
Invoertariewe
Verdere kwessies waarna daar volgens die voorgestelde opdrag gekyk sal word, is die plaaslike en internasionale mark, en invoertariewe.
Thomson sê ingevoerde produkte, soos kaas, land hier teen laer pryse as wat dit in Suid-Afrika vervaardig kan word. “Invoer maak ons verskriklik seer.”
Daarom hoop hy die taakspan kan ’n rol speel dat invoertariewe, wat die laaste 18 jaar dieselfde gebly het, aangepas word.