
Boere se vooruitsigte in die distrik Edenburg het binne 'n kwessie van twee maande van kritiek tot Kanaän gegaan, sê die verheugde voorsitter van die Edenburg-landbouvereniging.
Mnr. André van Wyk sê die reën het sedert Kersfees in die droogte-geteisterde streek begin uitsak en het steeds nie opgehou nie.
"Omtrent elke dam, rivier en sloot is vol gereën in die laaste twee weke. In die laaste tien dae alleen het dit oor die 150mm gereën. Dit is oral papnat!"
Van Wyk, wat met DohneMerino-skape, Simbra-beeste en wild boer, het kort voor die reën begin het sy beeste na Frankfort geskuif omdat die diere gevrek het. "Ons het letterlik nie meer antwoorde gehad nie. Die tempo waarteen ons skape gevoer het, was nie volhoubaar nie, ons was in 'n doodloopstraat wat weiding betref," sê Van Wyk.
Weiding het herstel
Intussen het die weiding sodanig herstel dat hy sy beeste teruggeskuif het na sy grond by Edenburg. "Met die vog wat reeds in die grond is, herstel die veld baie vinnig. Veld wat menslik gesproke vyf of ses jaar sou vat om te herstel, gaan nou binne twee maande herstel."
Hy sê talle boere is stomgeslaan oor die ommedraai en dankbaar vir die genade. "In my leeftyd, en in dié van baie van die ouer boere in ons distrik, het ons nog nooit so iets beleef nie."
Van Wyk is vol moed dat die droogte in die Wes-Kaap ook die wyk sal neem. "Julle uitkoms is ook naby. Hou moed," sê hy.