
Rekords het by die Cape Wine-veiling gespat toe ’n verstommende R22,3 miljoen ingesamel is wat nét só vir kinders in die wynlande se opvoeding en die verbetering van hul lewensomstandighede geskenk word.
Die hele opbrengs van die veiling, sonder aftrekkings, word aan 22 gekeurde liefdadigheidsorganisasies geskenk wat hulle almal beywer om kinders in die wynlande op te hef.
Volgens me. Darielle Robertson, direkteur van die Cape Wine-veiling, wou hulle vanjaar graag R15 miljoen insamel.
Almal was sprakeloos
“Die uiteindelike bedrag het almal letterlik sprakeloos gelaat!” vertel sy oor die veiling wat op 11 Februarie by Anthonij Rupert Wyne aangebied is.
Die veiling is die eerste keer in 2014 aangebied. Die eerste drie veilings het altesaam R33 miljoen ingesamel – wat vanjaar se prestasie werklik ongelooflik maak.
Reise, luukse verblyf, kuns en spesiale wyne het alles onder die hamer gekom. ’n Reis na die Napa-wynvallei in Kalifornië het die hoogste bod van R3 miljoen gelok. Dis die hoogte bedrag wat nóg by die veiling op ’n lot gebie is.
Beeldhouwerk haal R1,2 miljoen
’n Gedenk-beeldhouwerk van 3 m hoog deur Lionel en Anton Smit het R1,2 miljoen gehaal. Dié lot het ook ’n wyn-en-koservaring by Idiom-landgoed se restaurant ingesluit.
Benewens die Suid-Afrikaanse bieërs het Amerikaners, Duitsers en Swede ook hul sakke by die veiling geskud. “Met dié geld kan ons ons programme uitbrei en selfs hoër mik as die vordering wat ons reeds gemaak het,” het Robertson gesê.