
Die Wêreld Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskap het onlangs in Invercargill, Nieu-Seeland, plaasgevind en mnr. Mayenzeke Shweni is as kampioen bekroon. Sy spanmaat, mnr. Bongani Joel, het vierde plek verower.
Die span het voor die kompetisie goed voorberei deur 1 000 ooie by mnre. Chris en Robin O’Connell in Orepuki te skeer. Mnr. Izak Klopper, die span se bestuurder, meen Suid-Afrikaanse skeerders is fisies sterker as hul eweknieë in Australië en Nieu-Seeland omdat hulle meer skape skeer. “Hulle voorarms en handspiere is meer gelouter en hul uithouvermoë is baie sterker gevestig.”
Suid-Afrikaners skitter sedert 1996, toe mnr. Elliot Ntsobo van Lesotho as eerste deelnemer uit Afrika as wêreldkampioen aangewys is in die handskeerafdeling van die kompetisie. Mnr. Zweliwile Hans het dié titel al vier keer ingepalm.