Die Tesourie het vanjaar goedgedink om meer as R2 miljard vir restitusie te bewillig nadat die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se begroting nie die vorige boekjaar aangepas is nie.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, het Woensdag in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk aangekondig dat dié departement se totale aanpassing is net meer as R523 miljoen vanweë die skuif van meer as R1,9 miljard van grondhervorming vir ander doeleindes.
Grondhervorming se begroting van net meer as R4,083 miljard is tot R2,12 miljard verminder.
Maar die totale aanpassing van R523 miljoen is maar ‘n druppel aan die emmer want die departement kort sowat R74 miljard om sy mikpunt vir grondhervorming ten gunste van swart mense te bereik.
Moet grondeise afhandel
Die R2 miljard vir restitusie sal aangewend word om van die 7 000 grondeise te finaliseer. Die departement het in die eerste helfte van die 2010-’11 boekjaar 38 grondeise gefinaliseer omdat hy fokus om die agterstand wat met die vorige eise ervaar word, eers af te handel. Daar word beoog om altesaam 120 in die boekjaar te finaliseer.
Die hoeveelheid hektaar grond wat aan begunstigdes van grondhervorming herverdeel is, is ook laer weens die fokus wat eers geplaas word om plase te help wat in die moeilikheid geraak het.
Net 100 777 ha van die beoogde 436 245 ha is in die eerste ses maande herverdeel.
26 Oktober 2010