
Sedert die Russiese regering ’n jaar lange verbod geplaas het op die invoer van landbouprodukte van lande wat sanksies teen hom ingestel het weens Moskou se “betrokkenheid” in die Oekraïne, is die gort behoorlik gaar!
Amerika, die Europese Unie, Kanada, Australië en Noorweë word onder meer geraak omdat dié lande sanksies teen Rusland ingestel het.
Die Russiese nuusagentskap RT berig dat groeiende meningsverskille in die EU heers oor die “handelsoorlog” teen Rusland. In die tussentyd staan lande wat nie in dié verskille betrokke is nie, reg om in te spring om die vrugte te pluk, of eerder te lewer.
Indien dié verbod voortduur, kan dit die EU se lidlande sowat VSA$16 miljard kos, sê die EU se ambassadeur in Rusland, mnr. Vygaudas Usackas.
China is ook gereed om vrugte en groente regstreeks aan Rusland te verkoop, terwyl ’n Chinese maatskappy reeds ’n logistieke sentrum ingerig het om met sy buurman handel te dryf. Selfs Marokko wil nou van sy produkte aan Rusland verkoop.
In ’n ander wending het Pole ’n versoek aan Amerika gerig om dié Poolse appels te koop wat Rusland nie meer wil hê nie. Pole is die grootste produsent van appels in Europa en die grootste verskaffer van appels aan Rusland, wat gewoonlik die helfte van dié land se appels koop. Pole is die vyfde grootse appelprodusent in die wêreld.
Griekse lede van die Europese parlement het Sondag vereis dat die EU sy sanksies teen Rusland kanselleer omdat dit Griekeland se landbou gaan ruïneer.
Verskeie nuusagentskappe en webwerwe het wyd oor dié gebeure geskryf. Volgens RT sien Russiese boere die verbod as 'n unieke en historiese geleentheid om die binnelandse produksie te ontwikkel. In die EU vrees boere 'n enorme krisis.
Die rimpel-effek van die verbod was ook in die sekuriteitebeurs merkbaar. Vrydag het die pryse van sekere genoteerde Russiese voedselmaatskappye met bykans 40% opgeskiet.