Graan SA verskaf regstreekse hulp en ondersteuning aan meer swart ontwikkelende en kommersiële boere as die aantal wit, opbetaalde lede wat deur die organisasie verteenwoordig word.
Me. Jane McPherson, programbestuurder van produsent-ontwikkeling by Graan SA, het op ’n voorligtingsgesprek oor Graan SA se boerontwikkelingsprogram gesê sedert 2004 het Graan SA R88 miljoen aan die ontwikkeling van swart boere bestee. Sowat 3 600 boere is onder meer by studiegroepe betrokke. Dit is meer as Graan SA se sowat 3 400 lede.
Sy het gesê die program gaan oor die menslike ontwikkeling van individue. “Ontwikkeling is iets wat ’n mens vir jouself doen, andersins kan dit nie gebeur nie. Dit gaan nie net oor grond, toerusting, markte, geld, vaardighedeof opleiding nie. Dit gaan oor ’n kombinasie van dit alles. Deur deelname dra elkeen tot sy eie ontwikkeling by.”
Vir alle boere
Die ontwikkelingsprogram sluit bestaansboere, kleinboere en selfs kommersiële boere in.
Daar is ’n klub vir boere wat reeds meer as 250 ton per jaar produseer en dié klub het al 58 lede. Sedert verlede jaar is Graan SA ook by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se herkapitaliseringprogram vir boere betrokke. Dit was voorheen vir die begunstigdes van grondhervorming.
McPherson het gesê boere is gekies wat deel van Graan SA se program is en ook begunstigdes was van die Regering se hervormingsprogramme.
Altesaam R36 miljoen is in September verlede jaar deur die departement daarvoor beskikbaar gestel en 16 boere word nou gehelp om weer op die been te kom. Sy sê dit gaan uitstekend en 15 van die 16 boere sal hierdie seisoen ’n oes hê.
24 April 2012