
Die afgelope ses weke het verskeie staatsdepartemente, waaronder amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Graan SA genader vir vennootskappe.
Mnr. Jannie de Viliers, hoof uitvoerende beampte, sê die meeste van dié vennootskappe fokus op die ontwikkeling van klein swartboere.
“Dit wil voorkom of hulle ons sien as ’n vennoot wat kan lewer, veral met sowat 4 000 swart boere as lede van Graan SA,” vertel De Villiers. Hy sê hulle is opgewonde oor die vennootskappe wat tans op die tafel is, en sê hulle wag met opgewondenheid om te sien wat die volgende ses maande inhou.
‘Mooi gesindheid’
De Villiers sê: “Ons beleef ’n baie mooi gesindheid van die staat se kant af, en hulle kom met geld op die tafel. Ek dink hul hande was nog altyd oop, hulle het dalk net nie altyd die regte afsetpunte gekry nie.”
Intussen is die organisasie baie tevrede met die vordering wat hulle sien by kleinboere wat die organisasie se opleiding voltooi het. De Villiers sê verskeie boere van regoor die land het hulle die afgelope week in Pretoria besoek om van hul vordering en sukses te vertel.
“ ’n Vrou van die Oos-Kaap, wat met ’n os ploeg, sê sy is baie opgewonde dat sy nou genoeg produseer om aan ander te kan verkoop,” vertel De Villiers.
Die vrou, wat aanvanklik op 3 ha mielies geplant het, het gewoonlik ’n oes van sowat ’n half ton per ha gehad. Ná sy die kursus gevolg het – wat haar oor bestepraktyk-boerderymetodes ingelig het – beplant sy nou sowat 4 ha, wat sowat 5 ton per ha lewer.