Met die vele veranderinge wat die afgelope jaar by Graan SA plaasgevind het, soos die verskuiwing van sy kantore na Pretoria, fokus die organisasie op sy kongres op nuwe geleenthede.
Dié kongres begin Woensdag, 7 Maart, op Nampopark buite Bothaville.
Luidens ’n verklaring sê die organisasie in die tyd van verandering is sekere strategiese fokuspunte geïdentifiseer. Daarin speel nuwe geleenthede vir die landbou ’n belangrik rol. Derhalwe is vanjaar se kongrestema “Nuwe geleenthede: Invoervervanging en uitvoerbevordering”.
Op die eerste dag van die kongres is ’n ope sessie waartydens afgevaardigdes en gaste aan ’n gespreksforum kan deelneem.
Van die sprekers op dié sessie sluit in mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, en mnr. Stephen Hanival, hoofdirekteur van landbouverwerking by die Departement van Handel en Nywerheid.
Hanekom sal kongresgangers oor navorsingstegnologie en voeselsekerheid inlig. Jansen sal fokus op die belangrikheid van leierskap binne die landboubedryf, terwyl Hanival landbouverwerking met die klem op biobrandstof en persvermoë vir oliesade, sal verduidelik.
Op die tweede dag is die fokus op huishoudelike sake.
7 Maart 2012