
Met slim planne en baie ywer het Suid-Afrika se graanhanteerders verseker dat daar geen krisis ontstaan het met die opberging van die land se rekord-somergraanoes nie, sê mnr. Jacob de Villiers, voorsitter van Agbiz Grain en ook besturende direkteur van graanbestuur by Afgri.
Hy sê die ergste is nou verby. “Afgri het met sy innames in ’n stadium gepiek by 86 000 ton per dag en staan nou op sowat 8 000 ton per dag. As ek moet raai het Senwes waarskynlik gepiek by so 60 000 ton tot 70 000 ton per dag en is nou by sowat 20 000 ton. Dit is bestuurbaar. Dit is nie soos daardie massas wat instroom en wat hanteer moet word nie.”
Groter kapasiteit
Hy sê van die innoverende planne wat silo-eienaars gemaak het was om ekstra bergingskapasiteit te skep en selfs om graan oornag te verskuif van silo’s wat vol was na silo’s wat nog ruimte gehad het.
“Ek weet verskeie silo-eienaars, soos VKB by Reitz in die Vrystaat, het ekstra bunkers gebou. Ons het self ook ekstra tydelike kapasiteit geskep vir opberging op sommige plekke. Afgri se kapsiteit vir opberging is 4,8 miljoen ton en ons het in ’n stadium gepiek by 3,6 miljoen ton. Onthou, die graan word nie noodwendig gelewer by die plekke waar jy nog beskikbare kapasiteit het nie.”
De Villiers sê die belangrikste is nou om die vooraad veilig te bewaar tot dit verbruik of uitgevoer kan word. “Suid-Afrika se opbergers het ’n goeie geskiedenis van opberging. As mens kyk ’n langer tydperke waar ons dalk met ’n groot oordragvooraad in die nuwe seisoen gaan sit, sal daar nuwe uitdagings wees. Mens sal met nuwe-seisoengraan moet ontvang terwyl jy nog met ou-seisoenvooraad sit.”
Uitvoere vorder goed
Hy sê oor die totale opbergingsvermoë is daar nie ’n probleem nie. “Suid-Afrika het meer as genoeg opbergingsgeriewe. As mens net praat van silostrukture is dit in die omgewing van 18 miljoen ton se opbergingsvermoë. Dan kyk ons nog nie eers na alternatiewe strukture nie.
“As ons dieselfde groote oes die volgende seisoen moet hanteer saam met ’n groot oordragvoorraad, sal dit nuwe uitdagings skep. Maar ons sal nie kla daaroor nie en ’n plan maak. Ons verdien ons brood en botter daarmee.” Intussen is 993 840 ton van Suid-Afrika se surplus van meer as 4 miljoen ton al sedert die begin van die bemarkingsjaar in Mei uitgevoer.
Uitvoere het volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) ’n goeie hupstoot gekry in die week wat 11 Mei ge-eindig het. Altesaam 111 287 ton mielies (waarvan meer as 90% geel was) is in dié week uitgevoer teenoor die vorige week se net meer as 48 000 ton.