
Graan SA waarsku produsente om nie op ’n groot oes staat te maak voor die oes veilig in die silo’s is nie. “Die toestande lyk goed, maar dit is nog baie vroeg om die oes behoorlik te skat, aangesien daar nog baie moet gebeur voor die oes veilig in die silo’s is”, sê mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, in ’n verklaring.
Hoewel Graan SA sy dankbaarheid uitgespreek het oor die onlangse goeie reën, waarsku hy teen die indruk dat ál saaiboere se probleme nou opgelos is. “Baie aanplantings is reg aan die einde van en selfs ná die optimale datum geplant en loop die risiko van skade weens vroeë ryp. Vroeg in die produksiejaar was daar ook heelwat windskade.”
Opvolgreën die sleutel
Volgens die organisasie sal opvolgreën in ’n groot mate die grootte van die oes bepaal. Hy het produsente aangeraai om op die uitkyk te wees vir die volgende skatting van die Nasionale Oesskattingskomitee wat op 26 Januarie bekend gemaak word en om bemarkingsbesluite versigtig te neem.
Mnr. Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom by Agri SA, sê egter hy verwag ’n mielie-oes van tot 12 miljoen ton in die huidige produksiejaar, vergeleke met 7,5 miljoen ton in verlede jaar.
“Indien goeie reënval voortduur en oeste groter is, sal kospryse waarskynlik in die derde kwartaal van vanjaar daal. Dit sal ’n groot verligting vir verbruikers wees.”