
'n Graanprodusent neem sy produktiwiteit só ernstig op, dat hy die kilogram mielies verbou per millimeter water haarfyn meet. Hy is Mnr. Richard Hobson (33) van Nonen Ranch naby Setlagole, Graan SA se Graanprodusent van die Jaar.
Hobson is Vrydag by ‘n glansgeleentheid in Midrand as vanjaar se wenner aangekondig. Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die sertifikaat aan hom oorhandig.
Hobson het vroeëer in 'n onderhoud met Charl van Rooyen gesê hy kon sy mielie-opbrengs per mm reën binne 14 jaar drie keer verhoog. (sien Landbouweekblad van 10 Oktober 2014. )
In die proses om produktiwiteit te meet, maak hy deurgaans seker die koste van meganisasie en presisieboerdery is nie buite die boerdery-inkomste se vermoë nie.
Nonen Ranch behoort aan die familie-onderneming Botselo Holdings, waarvan Richard se pa, Carey, hoof uitvoerende beampte is, en Richard, sy broer, Garth, en Carey se broer, Adrian, die direkteure.
Die finaliste vir die Graanprodusent van die Jaar is JH Blanckenberg (Edms ) Bpk. van Durbanville en mnr. Egon Zunckel van Bergville.
Graan SA se wenners in die afdeling vir opkomende boere, is mnr. Enoch Khumalo van Piet Retief (Graan SA-ABSA-Bestaansboer van die Jaar), me. Lungelwa Kama van Maclear (Graan SA-Syngenta-Kleinskaalboer van die Jaar), en mnr. Ralph Swart van Bredasdorp (Graan SA-ABSA- Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar). Swart is die naweek ook as Landbouskrywers SA se Nuwe Toetreder tot Kommersiêle Boerdery in die Wes-Kaap bekroon.
* Graan SA het drie mense by dieselfde geleentheid vir hul uitstaande leierskap vereer: mnre. Neels Ferreira, oudvoorsitter, Gert Pretorius (postuum), ‘n voormalige Boer van die Jaar van Landbouskrywers SA, en Fanie van Zyl, voormalige voorsitter van Graan SA se ouditkomitee en van die Suidwes-landbougroep.