Vrystaat Landbou wag vir ‘n hofdatum om die Regering aan te kla van minagting van die hof omdat hy sy plig aan boere teen die grens met Lesotho versuim.
Ingevolge ’n skikking in Junie 2010 tussen Vrystaat Landbou en die Regering sal ’n nuwe grensheining opgerig en die grenspad herstel word en die polisie die grens patrolleer.
Heining vernietig
Dié ooreenkoms is ’n bevel van die hof gemaak. Vrystaat Landbou voer nou voor die Vrystaatse Hooggeregshof aan die Regering kom dit nie na nie. Die splinternuwe grensheining wat Vrystaatse boere aan die grens met Lesotho oprig, word feitlik oornag vernietig.
Die aansoek is onder meer teen die Minister van Polisie, die Vrystaatse premier en die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye deurdat hulle in gebreke gebly het om die hofbevel na te kom.
In die aansoek eis Vrystaat Landbou dat die respondente voor einde Maart vanjaar sekere geriewe en toerusting langs die grens verskaf. Dit behels onder meer die voorsiening van satellietbeelde van die Lesothogrens, kolligte op 20 punte langs die grens, nagsigtoerusting, globale posisioneringstelsels, viertrekvoertuie, vierwielmotorfietse, windastoestelle vir die viertrekvoertuie en 14 houers wat as statiese uitkykpunte aan die grens kan dien.
Pad moet ook herstel word
Voorts is die versoek gerig dat die patrolliepad tussen die Vrystaat en Lesotho binne drie maande ná die datum van die aansoek herstel word. Die Regering moet ook ’n lys van name van die amptenare wat verantwoordelik is vir die nakoming van die hofbevel aan die hof voorsien.
Dié amptenare moet weer later aan die hof oor die vordering terugvoer gee. Indien daar nie gehoor aan die versoeke gegee word nie, kan dit lei tot boetes en/of tronkstraf.
Die Regering het ingestem om die grenspad van sowat 487 km te herstel en die grens te beveilig. Net sowat 50 km van die pad is egter herstel, sê mnr. Cobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee.
Boere sê Lesotho-burgers vernietig weekliks grensheinings om hul vee onwettig in Suid-Afrika te laat wei of hulle steel groot hoeveelhede weiding deur die gras met sekels af te sny.
30 Januarie 2012