
“In die eerste drie maande van die jaar het die landbousektor kragte saamgesnoer om sy samewerking met Transnet beter te koördineer. Die samewerking het gehelp om die vloei van inligting oor verskeie probleme en funksies by Suid-Afrikaanse hawens te verbeter. Dit was veral die geval by Kaapstad-hawe waar lang vertragings aan die begin van die jaar ervaar is weens verskeie probleme met infrastruktuur en moeilike weersomstandighede,” sê me. Casey Delport, beleggingsanalis by Anchor Capitol.
Die wa is egter nog nie deur die drif nie, want in die eerste weke van Julie is bedrywighede by Suid-Afrikaanse hawens gekenmerk deur toerusting wat nie beskikbaar was nie, óf onklaar geraak het. Dit, tesame met beurtkrag het probleme en vertragings veroorsaak by hawens, veral in die Oos-Kaap, luidens ’n onlangse haweverslag van Business Unity SA (Busa).
“In 2021 het Transnet deurgeloop onder kuberkrakers en die onluste in KwaZulu-Natal het toegang tot Durban-hawe belemmer,” sê Delport.
“Kaapstad het in Desember 2021 gebuk gegaan onder ’n kragonderbreking wat veroorsaak het dat 1 350 verkoelde vraghouers met vrugte – onder meer tafeldruiwe en bloubessies – vir 28-36 uur sonder krag was.
“Boonop het Transnet aangedui 96 werksdae het by Kaapstad se terminus in die jongste boekjaar verlore gegaan.”
In 2022 is toegang tot die Durban-hawe onder druk geplaas weens die vloede.
Transnet, wat pas sy eerste ongekwalifiseerde oudit in vier jaar van die ouditeur-generaal ontvang het, is wel van voorneme om probleme met onder meer infrastruktuur, vandalisme en kabeldiefstal daadwerklik aan te pak. Die maatskappy het Woensdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart bekend gemaak. ’n Wins van R5 miljard is aangeteken teenoor ’n verlies van R8,4 miljard in die 2021-boekjaar.
Dit is egter nie net plaaslike hawens wat probleme veroorsaak vir produsente en uitvoerders van landbouprodukte nie.
Busa sê hoewel die skerp styging in verskepingstariewe wêreldwyd sedert April 2021 effe begin afneem, duur opeenhopings by groot internasionale hawens voort. Dit vererger selfs.
Só word landbouprodukte uitgevoer
Delport sê in waarde voer Suid-Afrika jaarliks omtrent die helfte van die landbouprodukte wat plaaslik geproduseer word, uit. In 2021 was die waarde van uitgevoerde landbouprodukte ongeveer $12,4 miljard.
Die kommoditeite soos sitrus, druiwe, mielies en wyn wat uitgevoer word, strek wyd. Suid-Afrika se uitvoermarkte is goed gediversifiseer, wat beteken Suid-Afrika se landboubedryf is nie afhanklik van een mark nie.
“Die land se geografiese posisie maak daarvan ook ’n ideale uitvoerder na die Noordelike Halfrond. Uitvoermarkte sluit dus ander Afrikalande, Europa, Asië, die Midde-Ooste en Amerika in.”
Volgens haar het Suid-Afrika hierdie vlak van diversifikasie met die uitvoer van sy landbouprodukte juis gedeeltelik bereik danksy die inskiklikheid van beleidmakers, landbou-ondernemings en boere teenoor tegnologiese vooruitgang op meganiese en biologiese gebied. “Dit het gehelp om produktiwiteit te verhoog.
“Die werklikheid bly egter dat Suid-Afrika weens sy geografiese omgewing nie al die voedselprodukte wat deur plaaslike verbruikers benodig word, self produseer nie. Die land se invoerrekening vir landbouprodukte in 2021 was byvoorbeeld $6,9 miljard. Die topvyf produkte wat toe ingevoer is, was palmolie, rys, koring, hoendervleis, en whiskies en ander spiritualieë. Hierdie produkte het gesorg vir 30% van die totale ingevoerde waarde. Suid-Afrika se klimaat verleen hom nie daartoe om sy produksie van palmolie, rys en koring te verhoog nie.”
Top-10 lande waarheen Suid-Afrika in 2021 landbouprodukte uitgevoer het:
- Nederland 10,2%
- Brittanje 7,3%
- China 6,3%
- Botswana 6,2%
- Namibië 5,7%
- Amerika 4,6%
- Mosambiek 4,5%
- Zimbabwe 3,8%
- Lesotho 3,4%
- Verenigde Arabiese Emirate 3,4%
Bron: ITC Trade Map, Anchor.
Probleme by Suid-Afrikaanse hawens
Vanaf 2020 was daar volgens Delport veral drie “swartswaan-gebeurtenisse” wat probleme vir die logistieke ketting van die landboubedryf veroorsaak het:
1. Betroubaarheid van die internasionale verskepingskedules. Tot Julie 2020 het die betroubaarheid van vragskipskedules tussen 65% en 85% rondbeweeg, maar teen 2021 het dit tot so laag as 30% gedaal.
Wat egter meer kommer wek, is dat meer vragskepe in 2022 laat by hul bestemmings opdaag as aan die begin van 2021.
2. Internasionale vragtariewe. Verskepingstariewe het die hoogte ingeskiet namate die internasionale skedule se betroubaarheid in Julie 2020 baie laag gedaal het.
Vragmaatskappye, soos Maersk, se groei in netto wins was op ’n jaargrondslag daarom gemiddeld 828% en bedryfswinsmarges het vanaf 17,2% in 2020 tot 48,4% in 2021 geklim.
Sy sê die meeste van die stygende koste, soos vragtariewe, syfer deur die waardeketting na produsente en uiteindelik verbruikers.
3. Vertoning van plaaslike hawens. “Die Wêreldbank het in 2020 ’n statisties gedrewe oefening gedoen deur ’n rangorde op te stel van 351 haweterminusse wêreldwyd. Kaapstad was nr. 347 op die ranglys, Durban 349 en Ngqura 351.”
Die impak van die Oekraïnse oorlog op landbou.
Delport sê die oorlog tussen Rusland en Oekraïne hou beduidend gevolge vir die Suid-Afrikaanse landbousektor in, veral vir die tuinboubedryf.
“Rusland voer jaarliks in waarde gemiddeld 7% van Suid-Afrikaanse sitrus en 12% van appels en pere in. Dit is dus te verstane dat kommer in die sektor geheers het oor die onmiddellike impak van die oorlog.
“Uitvoer het egter in die eerste kwartaal van die jaar, hoewel beskeie, wel toegeneem (1% op ’n jaargrondslag) tot $2,96 miljard. As uitvoer aan die vergelykbare vorige kwartaal gemeet word, het dit met 6% gestyg en die produkte wat die fluksste uitgevoer is, sluit onder meer in druiwe, mielies, wyn, appels, pere, perskes, kersies, appelkose, wol en vrugtesappe.”
Delport glo die sleuteldrywers agter hierdie goeie uitvoervolumes is die goeie landbou-uitset gedurende die 2021-’22-produksieseisoen, stewige internasionale aanvraag en hoër mieliepryse.
Sy sê wel die swaar reën en vloede in KwaZulu-Natal in April het waarskynlik ook ’n aansienlik impak op handelsaktiwiteite gehad.
“Dit is dus moontlik dat daar ’n daling in data oor die handelsaktiwiteite gedurende die tweede kwartaal van die jaar sal wees, veral gegewe die belangrikheid van die Durban-hawe vir die uitvoer en invoer van landbouprodukte.”