
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die pan-Afrika-boere-organisasie (Pafo) het tydens die Agri All Africa-werkswinkel by die Jakarandaskou in Pretoria gesê dat die vasteland oor die meeste boere op enige vasteland ter wêreld beskik. Gebrekkige infrastruktuur en ’n historiese gebrek aan handel tussen Afrikalande maak egter van boere van die armste gemeenskappe op die vasteland.
“Dit lyk vir my of elke generasie van mense sy oorlog het om te veg. Die huidige generasie se oorlog is die oorlog teen armoede en hongersnood in Afrika. Geen ander generasie sal so goed toegerus wees om die oorlog te wen as ons nie nie, en daarom berus die onus op ons, om die stryd te wen,” het de Jager gesê.
Hy het daarop gewys dat Afrika oor meer as die helfte van die wêreld se vrugbare, maar ongebruikte, grond beskik en dat tot soveel as 85% van die vasteland se ondergrondse water ongebruik gelaat word.
“Afrika, in kort, beskik oor al die nodige elemente wat nie met geld gekoop kan word nie. Daarteenoor is daar ’n groot tekort in Afrika van dinge wat wel deur belegging opgerig kan word: infrastruktuur, marktoegang, tegnologie en meganisasie. Ons wil, in samewerking met SuiderAfrikaanse boere, hierdie elemente in Afrika help vestig tot voordeel van die hele vasteland,” het de Jager gesê.
Geënt op bestaande wortelstok
De Jager het beklemtoon dat SuidAfrikaanse boere nie van plan is om bestaande boere op die vasteland te vervang nie.
“Dit is vennootskap tussen SuidAfrikaanse boere en hulle eweknieë op die vasteland. Hulle beskik oor die grond, maar het nie marktoegang nie en benodig tegnologie. Dit is waar Suid-Afrikaanse, Zimbabwiese en Namibiese boere vennootskappe kan smee, want ons beskik op ons beurt oor hierdie hulpbronne. Ek sien dit as ’n soortgelyke proses as wanneer ’n vrugteboom op ’n bestaande wortelstok geënt word. Hierdie tipe vennootskap bied gelyke voordeel, maar vereis ook gelyke insette,” het de Jager gesê.
Daar is egter nog verskeie uitdagings wat eers uit die weg geruim sal moet word. “Dit is byvoorbeeld tans maklikers en goedkoper om vrugte van Suid-Afrika na Frankryk te stuur en vandaar na KongoBrazzaville as direk van SuidAfrika na Kongo-Brazzaville.
“Daarom sal ons met regerings moet onderhandel om infrastruktuur en marktoegang te help verander dat Afrika uiteindelik veel makliker besigheid met homself sal kan doen. Niks wat die moeite werd is word bereik sonder uitdagings nie, en ons sal voortgaan om vennootskappe tussen die vasteland se boere te help skep tot voordeel van almal,” het De Jager gesê.