
Die Regering gaan met die sakesektor saamspan om ’n groeifonds vir die landbou op die been te bring, het mnr. Jeff Radebe, Minister in die Presidensie gesê.
Hoewel Radebe nie spesifieke besonderhede oor die groeifonds kon gee nie, het hy aangedui dat dit verband hou met die inisiatiewe vir die landbou soos uitgestippel in die Regering se negepuntplan.
Die herlewing van die waardeketting van die landbou en landbouverwerking vorm deel van die negepuntplan wat daargestel is om spesifieke sektore te stimuleer vir beter ekonomiese groei.
Energie vir biobrandstof
Die landbousektor speel nie net ’n rol by die voorsiening van die land se voedselvoorraad nie, maar is ook van belang vir die groeiende energievoorsiening wat biobrandstof moet lewer en kan ook ’n groot stukrag vir uitvoer-inkomste wees.
Radebe het aangedui dat die Ministers van Handel en Nywerheid en Landbou, Bosbou en Visserye, later besonderhede oor die fonds bekend sal maak.O
Ontwikkeling van swart nyweraars
Landbou.com het vroeër berig dat die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF) meer gewig agter die verwerkingsektor in die landbou gaan gooi om te help met die ontwikkeling van swart nyweraars.
Dié agentskap van die Departement van Handel en Nywerheid het reeds die afgelope dekade R288 miljoen se lenings en ekwiteite aan 40 transaksies in dié verwerkingsektor toegestaan.
Dit is bekend dat ten spyte van die uitkringeffek van 2008 se ekonomiese afswaai, die sektor vir voedselverwerking veerkragtig gebly het.