Die Groenskrif wat ‘n grondwaardeerder-generaal voorstel wat grond in die land reg kan belas, sal teen Mei in die Staatskoerant gepubliseer word. Dié aankondiging word gemaak in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se strategiese oorsig in die dokument wat die raming van nasionale besteding neerpen.
Volgens die dokument sal die witskrif teen Mei 2012 aan die Kabinet voorgelê word. Die departement stel ‘n drievlakstelsel vir eiendomsbesit voor. Die een vlak is staatsgrond onder huurbesit, die tweede is private grondbesit met sekere beperkinge en die derde is buitelandse eienaarskap wat aan sekere voorwaardes gekoppel sal wees soos produktiwiteit van landbougrond en vennootskappe met Suid-Afrikaners.
Nuwe beleid
Die beleid vir buitelandse eienaarskap met willekeurige herroeplike verlof sal opgestel word om te bepaal hoe buitelanders Suid-Afrikaanse grond kan besit of sensitiewe grond mag gebruik. Dit beteken hulle sal voortaan spesiale toestemming en goedkeuring moet bekom om grond van nasionale sekuriteit te bekom.
Die Wetsontwerp op die Beskerming van Grond, wat formeel voorsiening hiervoor sal maak, sal nog vanjaar by die Kabinet ingedien word. Verder sal die beleid vir die ontwikkeling van die Kommissie vir die Bestuur van Grond (LMC) teen 2012 ontwikkel wees.
Nuwe reguleerder
Die LMC sal die reguleerder van alle staats-, openbare en private grond in die land word. Hy sal ook moet toesien dat grond optimaal gebruik word om voedselsekuriteit, werkskepping en beleggings te verseker. Alle grondeienaars - privaat en die staat - sal voortaan verplig word om die hoeveelheid grond in hulle besit en enige veranderinge aan die LMC bekend te maak.
Beleid sal ook teen 2012 opgestel word vir die tot stand bring van ‘n waarderingstelsel, insluitend ‘n kantoor van die grondwaardeerder-generaal. Die kantoor sal die standaarde en riglyne vir grondwaardering hanteer.
Volgens die dokument sal dit die Staat ‘n pro-aktiewe rol in waarderings gee om grond volgens sy strategie vir grondverkryging (PLAS) te bekom binne die voorgestelde drievlakstelsel vir eiendomsbesit.
Landbouweekblad het reeds berig dat die ministeriële ekonomiese groep wat die groenskrif gefynkam het dit terug na die departement verwys het.
Daar is sekere aanbevelings gemaak waarna die departement moet kyk voordat dit uiteindelik aan die Kabinet vir goedkeuring voorgelê kan word.
23 Februarie 2011