Die groenskrif oor grondhervorming is gebrekkig ten opsigte van die omskrywing van uitdagings, sê Agri SA.
Die groenskrif oor grondhervorming is gebrekkig ten opsigte van die omskrywing van uitdagings vir die proses asook vir die korrekte identifisering van probleme met vordering hierroor, aldus Agri SA.
Luidens ‘n verklaring het dié organisasie die week in Pretoria vergader om dié dokument te bespreek en voorbereidings te tref vir sy bydraes tydens die konsultasieproses.
Die organisasie sê hy sal sy volle samewerking gee aan die nasionale verwysingsgroep en die werkgroepe wat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, aangestel het. “Tog is Agri SA bekommerd dat die minister dit nou reeds nodig gevind het om te waarsku dat die regerende party bereid is om die Grondwet te wysig as dit in die weg van grondhervorming staan,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Spoor privaatsektor aan
Möller sê hoewel die dokument ‘n volgehoue dissipline oor voedselproduksie vermeld, is die sosialistiese denke wat in die dokument na vore kom té sterk om toe te sien dat dit demokraties uitgevoer word.
Agri SA meen die groenskrif gee te min erkenning aan die waarde van markbeginsels om betrokkenheid deur die privaatsektor by die uitvoering van grondhervormingsdoelwitte, aan te spoor. “Daarteenoor sal verskeie voorstelle in die groenskrif, indien dit deurgevoer word, groter staatsbetrokkenheid in die grondmark tot gevolg hê en ook groter eise aan die staat se diensleweringsvermoë stel.”
Verwysingsraamwerk
Volgens Möller moet die verwysingsraamwerk vir die dokument aangepas word sodat dit die regte redes vir die onbevredigende vordering met die proses insluit, “en dit behoort ook erkenning te gee aan die kommersiële landbou se bydraes en om boere aan te moedig tot voortgesette investering in hul boerderye se produksievermoë.”
Mits die dokument geïmplemeteer word soos wat dit nou lyk, meen Möller die eindresultaat sal uiters nadelig wees vir die kommersiële landbou en vir voedselsekerheid in die land.
Die organisasie is van plan om omvattende kommentaar oor die dokument aan die minister en die Kabinet voor te lê.
23 September 2011