‘n Aansienlike hoeveelheid kommentaar is op die groenskrif oor grondhervorming ontvang en sal in Februarie op ’n nasionale byeenkoms van belanghebbendes deurgetrap word.
Daar blyk algemene instemming te wees in kommentaar oor die vier-vlakstelsel van grondbesit en die instansies wat voorgestel is om dit te beheer (soos voorgestel in die groenskrif oor grondhervorming), sê die Department van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Volgens mnr. Eddie Mohoebi, hoofdirekteur van kommunikasie, is ’n span besig om die kommentaar saam te vat om die belangrikste kwessies uit te lig wanneer dit aan die Kabinet voorgelê word.
Hy sê daar is algemene instemming met die beginsels en aanbevelings ten opsigte van grondbesit en die drie instansies wat die stelsel sal ondersteun.
Doel misgekyk
Mohoebi sê ’n saak wat heelwat aandag gekry het, is die feit dat die groenskrif “ ’n dun, 14-bladdokument” is.
“Dit is jammer dat mense die doel misgekyk het. Die dokument is ’n raamwerk wat belanghebbendes die geleentheid wou gun om die wet wat daaruit voortspruit, te help vorm om dit hul eie te maak. Daarmee is die proses inklusiewer as wat dit sou wees as die departement ’n omvattende groenskrif voorgelê het,” sê hy.
AfriForum sê die Regering het nie die morele reg om die regte van burgers te beperk, te ondergrawe of te vervreem nie. Dié burgerregte-organisasie bevraagteken die grondwetlikheid van die voorgestelde groenskrif. Hy sê hy sal “alle moontlike kanale benut om die aanvaarding daarvan teen te staan”.
25 Februarie 2012