’n Geweldige taak lê voor vir die nasionale verwysingsgroep wat in die lewe geroep is om die Regering raad te gee oor die groenskrif oor grondhervorming.
Hierdie werkgroep van sowat 25 belanghebbendes in die landbou is deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in die lewe geroep.
Ses werkgroepe
Die verwysingsgroep het ses werkgroepe wat onderskeidelik moet kyk na die grondbestuurskommissie; die grondbestuursraad en sy plaaslike strukture; die grondwaardeerder-generaal; die drieledige stelsel van grondbesit; kommunale grond en die wetswysigings aan die Restitusiewet en die Wet op Kommunale Eiendomsverenigings (CPA’s).
Landbou.com verstaan dat twee verteenwoordigers van die begunstigdes uit elk van die nege provinsies en ’n aantal regeringsamptenare deel van die werkgroep is.
Me. Annelize Crozby, Agri SA se parlementêre verteenwoordiger, is aangewys as verteenwoordiger van die organisasie in die nasionale verwysingswerkgroep.
Min tyd
Sy het gesê dat al die organisasies bekommerd is oor die min tyd wat gegee word vir die konsultasieproses van die werkgroep.
Die werkgroep moet sy konsultasie binne twee maande afhandel. Daarna word die proses vir openbare kommentaar oopgestel.
“ ’n Geweldige taak lê voor, maar ons gaan die bydraes na die beste van ons vermoë lewer.”
Sy het aangedui dat die konsultasieproses ’n dilemma skep omdat dit moeilik is om deel te neem aan prosesse waar die besonderhede van strukture bespreek word, terwyl jy nog nie in beginsel ’n standpunt daaroor ingeneem het nie.
Slegs deelname
“Ons word gedwing om deel te neem aan ’n proses waar die besonderhede reeds bespreek word. Ons is bekommerd dat ons deelname gesien kan word as ’n aanvaarding van die beginsels.”
Dit is egter duidelik gemaak aan Nkwinti en die werkgroep dat die deelname aan die proses nie beteken dat daar net bloot by die groenskrif ingekoop word nie, het sy gesê.
Nkwinti het reeds aangedui dat landswye werksessies oor die dokument gehou sal word.
28 September 2011