
Die groenskrif oor grondhervorming se karakterisering van wit boere as kolonialiste kom naby aan haatspraak, sê mnr. Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. “Dit is moeilik om die groenskrif as enigiets anders te beskou as ’n dokument van rassemobilisasie teen wit boere.”
Steward het ’n konferensie oor grondhervorming deur die Ad Hoc-komitee vir eiendomsreg toegespreek oor sý bekommernisse oor die dokument. Hy sê die dokument se standpunt dat grond wat verloor is deur geweld of misleiding, teruggegee moet word aan die binnelandse kultuur wat sentraal staan, skend die fundamentele waardes van die Grondwet.
“Dit is uiters onaanvaarbaar om te sê dat een kulturele groep meer sentraal is as ’n ander.”
Steward sê hulle is ook bekommerd oor die voorgestelde Generaal vir Waardasie wat in die groenskrif vervat is, en die feit dat die staat beoog om dié dokument op dieselfde tyd as die Grondsekuriteitswetsontwerp van 2010 te implementeer.
Voedselsekerheid
Steward sê die staat moet nie net die herstel van eienaarskap van grond in sy besluite in ag neem nie, maar ook kommersiële boerdery, voedselsekerheid, plaaslike en internasionale beleggings en rasverhoudings.
Ná raming het sowat 90% van alle plase wat tot dusver aan swart grondeienaars gegee is, reeds misluk. Steward sê dít het niks te doen met die ras wat daarby betrokke is nie. Dít weerspieël bloot die feit dat behoorlike kapitaal en baie ondervinding nodig is om ’n boerdery te laat slaag.
“Dit sal die hoogste vlak van lawwigheid wees om ’n grondhervormingbeleid in te stel wat die vermoë van ons plase om ons mense te voed, sal vernietig,” aldus Steward.
Mandela
Steward het sy toespraak afgesluit deur uit te wys hoe die bepalinge van die groenskrif oud-Pres. Nelson Mandela se stellings en beloftes teëwerk. In sy toespraak by die aanvaarding van die Grondwet in 1996 het Mandela gesê:
“Ons belofte is: Nooit en nooit weer sal die wette van ons land ons mense verdeel en onderdrukking en verdrukking wettig maak nie. Saam sal ons stap, hand-aan-hand, na ’n beter toekoms.” Steward sê die groenskrif is regstreeks in teenstelling met dié belofte.
31 Mei 2012