Nie alle eienaarskap van grond in die land sal deur die Kommissie vir die Bestuur van Grond (LMC) in twyfel getrek word nie, sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Groenskrif voor Parlement
Die groenskrif vir grondhervorming is in die Parlement ter tafel gelê, waarna dit in die Staatskoerant gepubliseer sal word.
Nkwinti het op ’n mediakonferensie by die Parlement aan Landbou.com verduidelik die LMC se mag beteken om individuele of korporatiewe titelaktes te verifieer, te bekragtig of ongeldig te verklaar.
Hy het gesê dié struktuur sal volgens sy eie ontleding van omstandighede bepaal of verifikasie nodig is en/of wanneer dispute oor grondienaarskap aangemeld word.
Hy het verduidelik dat sy amptenare al gevind het dat grond wat met die staat se program vir herverdeling van landbougrond (LRAD) aan swart boere gegee is, aan iemand anders oorgedra is.
Magte
Van die magte wat die LMC het, is dat hy enigeen kan dagvaar om voor hom te verskyn en vrae te beantwoord oor sy grond en grondbelange. Hy sal ook navraag mag doen oor enige grondvraag, uit sy eie of in die belang van belanghebbendes.
Verder sal hy ’n deklarasie van enige eiendom met al die verwante dokumentasie daaroor mag vra en ook amnestie verleen en/of vervolging inisieer na sy goeddenke.
Oor die beperking op die besit van grond deur buitelanders in Suid-Afrika, het hy gesê dat met die eienaars vergader sal word en aan hulle verduidelik word waarom dié stap gedoen móét word.
“Ons het ’n punt bereik waar ons seker wil maak dat ons beheer oor ons nasionale bate, grond, neem.”
Elders in die wêreld besit buitelanders grond in ander lande, maar op baie streng voorwaardes. Dit is as hulle die voorreg daartoe het, het hy bygevoeg.
31 Augustus 2011