
Moenie oor die groenskrif oor grondhervorming bekommerd wees nie, sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
Dít was deel van sy boodskap aan kommersiële boere tydens Agri SA se jaarkongres in Johannesburg.
Nkwinti sê hy is tans baie bekommerd oor kommunale grond en hoe dit verdeel moet word. Hy voorsien dat die grootste gevegte rondom kommunale grond en die Grondwet en die kultuur wat daarby betrokke is, gaan ontstaan.
Hy het boere gerus gestel met dit wat hy in Februarie 2010 gesê het: “Ons wil die pad van grondhervorming saam met julle loop, ek het toe so gesê en dit is steeds so.” Hy het ook hande geskud met mnr. Louw Steytler wat die stelling gemaak het dat Agri SA ‘n grondbeleid ondersteun wat volhoubaarheid in die landbou gaan bevorder.
Leiers op platteland
Nkwinti sê die land benodig dringend leierskap ten opsigte van de-rasionalisering van die samelewing. “Ek dink dit is belangrik om te sê, hierdie vergadering is presies die teenoorgestelde van ‘n ANC-vergadering. By ‘n ANC-vergadering sien jy ‘n groepie wit mense wat daar sit, hier sien ek ‘n groepie swart mense wat daar sit. Om ras uit die vergelyking te verwyder, is steeds ‘n groot uitdaging.”
Nkwinti het die hulp van boere gevra om de-rasionalisering in landelike omgewings te bevorder. “Ons het leiers vir dít op die platteland nodig.”
Model werk nie
Volgens die minister is dit duidelik dat die huidige model van grondhervorming nie behoorlik werk nie. Hy sê deur ‘n plaas in die Staatskoerant te adverteer, neem jy die produktiwiteit van daardie grond weg.
Die grond kan lank in die proses vasgevang wees, terwyl plaaswerkers en die boer die plaas verlaat. Nkwinti sê hulle wil voorkom dat dié boer en die werkers se kundigheid vir die land verlore is, en die grond onproduktief lê. “En dit is hoekom ons ‘n nuwe model soek, en almal van ons gaan moet saamwerk om dit te laat slaag.”
Hou Landbouweekblad dop vir meer oor Nkwinti se gesprek met Agri SA.
13 Oktober 2011