Die groenskrif oor grondhervorming het die vermoë om maatskaplike en politieke bestendigheid in Suider-Afrika te ondermyn, sê mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum-woordvoerder oor ekonomiese sake.
Dié burgerregte-organisasie het sy kommentaar op die groenskrif ’n dag voor die sperdatum ingedien en sê in sy voorlegging die dokument steun op verkeerde aannames en prosesse om die grondvraagstuk te probeer oplos.
‘‘Dit kan grondwetlike vordering sedert 1994 ongedaan maak,’’ sê Jansen van Rensburg.
AfriForum verwerp die dokument in geheel met spesifieke verwysing na die streng beperking op private eienaarskap; die staat se reg om grondwaarde en die benutting van grond te bepaal, asook sy reg om titelaktes ongeldig te verklaar en beslag op grond te lê.
Ondemokraties
‘‘Dié stappe gee ondemokratiese en tirannieke magte aan die staat wat hom bematig om buite die grondwet op te tree,’’ sê AfriForum in ’n verklaring.
Die organisasie sê hy is nie gekant teen rasionele pogings om grondeienaarskap van individue en gemeenskappe uit te brei nie, maar die groenskrif bevorder juis nie toegankliker grondeienaarskap vir alle burgers nie.
‘‘AfriForum bevraagteken die grondwetlikheid van die voorgestelde groenskrif en sal alle moontlike kanale gebruik om die aanvaarding daarvan teen te staan,’’ lui die verklaring.
6 Januarie 2012