
Handel die bestaande grondeise af en begin met ’n stelsel van huurpag vir mense wat wil boer, maar nie grond kan koop nie, het emeritusprofessor Louis Changuion op die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se simposium oor grond in Pretoria gesê.
“As die rassekwessie uit grond gehaal word, is die groenskrif oor grondbesit nie nét sleg nie. Daar is suksesvolle swart én wit boere wat nie grond besit of kan koop nie, maar wíl boer. Vir hulle kan die huurpagstelsel wat die groenskrif voorstel, die antwoord wees.”
Volgens Changuion het ’n soortgelyke stelsel in die 18de eeu boere in staat gestel om in ’n vryemarkomgewing leningsplase in eiendomsplase te ontwikkel. Om te bepaal hoeveel grond beskikbaar is, is dit dringend noodsaaklik dat die grondoudit afgehandel word en ’n opname gemaak word van die persentasie onbenutte grond in private besit, asook dié in myne, sendinggenootskappe en maatskappye se besit.
Dié grondeienaars moet bereid wees om sulke grond af te staan, wat reeds in talle gevalle gebeur het, sê hy.
Standpunt oor grondhervorming
Die akademie het op die simposium ’n standpunt van betrokkenheid by die grondhervormingsproses ingeneem. Voorleggings op die simposium het bevestig dat die eisproses vir restitusie mank is.
Dr. Anton van Vollenhoven, erfeniskonsultant wat die afgelope agt jaar by grondeise betrokke is, het gesê by grondeise is kundigheid in ’n vroeë stadium nodig om koste te spaar. In ’n eis van ’n enkele stam ten opsigte van 32 plase in Limpopo en Noordwes het die hof bevind hul eis ten opsigte van vier van die plase is geldig en moontlik geldig op ’n verdere vier.
Dit was ongeldig op 18 plase en moontlik ongeldig ten opsigte van ses. Die eisers het hul eis op die 18 plase teruggetrek, maar die ondersoek het derduisende rande beloop. Volgens prof. Elize van Eeden van die Noordwes-Universiteit se skool vir basiese wetenskappe word die geskiedenis tans geïgnoreer in die hantering van grondeise en word grond en geld toegeken omdat eisers ongeduldig raak.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, het gesê die huidige boeregenerasie “is net ’n ploeg-en-plant-generasie”. Hy meen die volgende generasie sal met die oplossings kom.