Die Groenskrif wat die rigtingwyser vir eiendomsbesit in die land sal wees, is terugverwys na die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Landbouweekblad het verneem dat die ministeriële ekonomiese groep wat die dokument gefynkam het, sekere aanbevelings gemaak het. Die departement moet eers daarna kyk voor die dokument aan die Kabinet vir goedkeuring voorgelê kan word.
Mnr. Mtobeli Mxotwa, woordvoerder van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê dit is ’n uiters belangrike dokument vir die land en daarom is dit na die departement terugverwys “sodat sekere kwessies heroorweeg word”.
Die departement verfyn tans die besonderhede in die Groenskrif, het hy gesê. Die besprekingsdokument van 129 bladsye het einde verlede jaar nie-amptelik in die media verskyn. Menige kenners oor eiendomsreg het die krake in die nie-amptelike dokument uitgewys.
Prof. Mohammad Karaan, lid van die Regering se Beplanningskommissie wat ’n visie vir die land moet ontwikkel, is einde verlede jaar aangestel om die Groenskrif reg te skaaf.
Hy het aangedui dat hy bydraes van boere en ander belanghebbendes moes kry voor hy ’n dokument kon finaliseer wat versoening en vertroue bring en daadwerklike planne uiteensit. Dié proses sou sowat ses maande duur.
Nkwinti wou egter die Groenskrif op die eerste Kabinetsitting in die nuwe jaar vir kommentaar voorlê.
Die proses begin dus nou weer van vooraf.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 18 Februarie 2011.
15 Fberuarie 2011