
’n Silwer rant steek kop uit aan die donker wolk van verrassings wat groenteboere die afgelope paar maande onkant gevang het.
Ná afloop van ’n inisiatief van Aartappel Suid Afrika (ASA) en die Produce Marketing Association (PMA) in Suidelike Afrika, het industrieleiers saamgespan om die behoefte vir ’n inklusiewe forum, wat vir alle groenteboere en ander rolspelers in die groentebedryf oop en toeganklik is, op die been te bring.
Volgens me. Lindie Stroebel, algemene bestuurder van die PMA in Suidelike Afrika, sal die formele dokumentasie wat die werking en beginsels van die forum formaliseer binnekort afgehandel wees.
“Die doel van die forum is om alle betrokkenes by groenteverbouing, -verwerking en -bemarking in te lig en om ’n platform te skep waar voorrangsake in elke industrie bespreek kan word. Dit bied ’n geleentheid om beter besluite te kan neem omdat rolspelers beter ingelig is en ’n platform beskikbaar is waar gesprekke kan plaasvind.
Bekommernisse aangespreek
“Die forum beoog nie om met die regering te skakel en te onderhandel nie. Die regering is reeds deel van die vormingsproses en sal in die toekoms deel wees van besprekings. Indien ’n forum soos dié ’n jaar terug bestaan het, sou die verwarring waarmee die inspeksiedienste aangekondig en geloods is, vermy kon word.
“Een van behoeftes wat reeds geidentifiseer is, is iets soortgelyks aan die rondetafel vir die vrugte-waardeketting, waar die bedrywe se bekommernisse en behoeftes gestruktureerd bespreek kan word en inligting gedeel kan word.
“Die groentebedryf is gefragmenteer en dit benadeel die bedryf. Deur dié forum kan rolspelers doeltreffend verenig word tot groot voordeel van alle betrokkenes.
“Tans is die PMA, ASA, FPEf (Varsprodukte-uitvoerdersforum), IMASA (Instituut vir Markagente van Suid-Afrika), Departement van Landbou en boere en groepe van regoor die land betrokke om die forum tot stand te bring. Ons sal binnekort ’n formele dokument hê wat ons kan versprei aan belangstellendes.
“Almal wat ’n belang het in ’n groentebedryf is welkom om by die forum aan te sluit,” sê Stroebel.