
As Suid-Afrika ’n burgeroorlog op hande wil hê, moet hy besluit om grond sonder vergoeding te onteien. Dit is die sterk bewoorde waarskuwing wat dr. Pieter Groenewald, leier van die VFPlus, gerig het aan partye soos die EFF, pres. Jacob Zuma, en ander politici wat hunker na die onteiening van grond sonder vergoeding.
Die Nasionale Vergadering het gedebatteer oor hoe grondhervorming bespoedig kan word deur die beperkingsklousule in die Grondwet te omseil om weg te doen met die “beginsel van gewillige koper/-verkoper”. Dié beginsel word nie in die Grondwet verwoord nie.
Volgens die Regering was hy genoodsaak om ’n alternatief vir die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper te vind vir grondaankope sodat grondpryse nie buitensporig styg wanneer hy grond vir grondhervorming aankoop nie.
Lees: Meer as 20 000 plase in SA op die mark
Die Regering het toe kragtens die Wet op Eiendomswaardering die pos vir die land se eerste waardeerder-generaal geskep om grond te waardeer wat vir onteiening geoormerk is, asook grond wat vir grondhervorming geïdentifiseer is.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê daar kan nou al gesien word dat die kwessie van grond die hooftema vir die algemene verkiesing van 2019 gaan wees. Die ANC en die EFF ding mee om te kyk aan wie hulle die meeste beloftes kan maak in terme van grond, meen hy. Hy het gewaarsku, dat “indien enigeen in Suid-Afrika dink jy kan die grond sonder vergoeding vat, dan leef jy in ’n droomwêreld.
“Laat ek dit volmondig stel. As jy ’n burgeroorlog in die land wil begin, dan doen jy dit.” Die waarskuwing van ’n burgeroorlog het daartoe gelei dat mnr. Floyd Shivambu, EFF-onderleier, Groenewald aangevat het oor sy oorlogspraatjies. Hy het gesê dit is onparlementêr om met ’n burgeroorlog te dreig. “Jy weet niks van oorlog nie.”
Het hom nie laat afsit nie
Groenewald het hom nie hierdeur laat afsit nie. Hy het voortgestoom en die ANC gebied om die geskiedenis te gaan lees oor wat werklik met die land se grond gebeur het.
“Gaan lees die geskiedenis. Daar was baie stamkapteins, selfs konings, wat grond gegee het aan die Voortrekkers. Hulle het dit nie gevat nie. Dit is vir hulle, daardie mense in Suid-Afrika, gegee.”
Hy het verder gewaarsku dat as die Regering daartoe uit is om die land se ekonomie te vernietig, moet hy voortgaan met hierdie soort praatjies.
Mislukking van grondhervorming
Volgens hom is die mislukking van grondhervorming nie die gevolg van die beginsel van gewillige koper/-verkoper nie, maar weens onbevoegde amptenare en korrupsie wat plaasvind. “Tans is daar meer as 20 000 plase in die ope mark waar die prys selfs met tot 20% goedkoper is as gevolg van die droogte.”
Hy het ook benadruk dat boere bereid is om te help en dat sommige reeds al mentors vir swart boere is, maar dat die Regering nie van die welwillendheid van die boere wil gebruik maak wanneer landbougrond ter sprake is nie.
Mnr. Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, het op sy beurt gesê Groenewald en ander wit Suid-Afrikaners, of hulle nou regs is of rooi soos hyself is, moet verstaan dat grond ’n baie diep emosionele kwessie is.
Lappieswerk van plase
Hy aangedui dat die groot ongelykhede in die eiendomsmark, soos in Suid-Afrika, ’n markgedrewe benadering min resultate of grootskaalse mislukkings ten opsigte van grondhervorming sal meebring. Die gewillige koper/-verkoper beginsel sal ’n lappieswerk van plase meebring wat vir grondhervorming aangekoop word, want dit sal afhang van watter plase in die mark gesit word.
Om grondhervorming in die landbou te doen, moet effektiewe planne bestaan en gekonsolideerde ingrypings om nuwe en bestaande boere se kans op sukses te verseker.
Dit beteken dat die staat moet help met ondermeer ondersteuning in die waardeketting, voldoende besproeiing, waterregte, heinings, voorligtingsbeamptes, veeartseny- en gewasdienste en logistieke infrastruktuur.
“’n Stukkie-vir-stukkie benadering maak hierdie kritieke ingryping onmoontlik om te konsolideer en te bekostig,” het Cronin gesê.