Suid-Afrikaanse boere mag hulle nie aan die onderhande lingsproses oor grondhervorming in die land onttrek nie.
Hulle moet sorg dat hulle tot elke prys betrokke bly en deel van die oplossings is, sê mnr. Theo Venter van die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom. Venter, een van die sprekers op die landbou-ekspo tydens die Anibrand-fees op Uitenhage, het gesê om jou tot die howe en Grondwethof te wend, is nie die antwoord nie, maar slegs ’n laaste uitweg.
“Die antwoord lê in informele gesprekke met beleidmakers en om betrokke te bly. Daar was vandag boere wat vrese oor hul toekoms uitgespreek het. Wat my die meeste beïndruk het, is boere se optimistiese ingesteldheid en om betrokke te wil raak,” het Venter ná die konferensie wat deur sowat 60 boere bygewoon is, aan Landbouweekblad gesê.
Venter meen daar sal talle teenstrydige uitsprake van regeringskant op pad na die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in Desember wees. “Ek dink die volgende agt maande gaan ons baie water trap en min groot besluite van die ANC-regering sien.
Werkloosheid en armoede
Dit moet egter nie uit die oog verloor word dat werkloosheid en armoede twee van die grootste knelpunte in die land is nie.
“Die kommersiële boere is bewus daarvan. Maar ook hier was mense wat vandag opgestaan en verklaar het dat daar nie op die Regering gewag kan word om oplossings vir die probleem te vind nie, maar hulle bereid is om die voortou te neem en dit in eie geledere en omgewing te doen.
“Pres. Jacob Zuma is een van die laaste ANC-leiers wat nog by die oorgangsregering betrokke is. Wie ook al ná hom kom, sal iemand wees wat meer toeganklik vir kiesers sal wees.
"Wanneer jy met vertroue regeer, slaan jy ag op uitsprake van buite. Só ’n regering raak meer gefokus om oplossing vir spesifieke vraagstukke te kry en minder ideologies na sake te kyk.”
Venter sê in die lidlande van Brics was daar reeds ’n betekenisvolle afname in ideologiese uitsprake en meer fokus op ekonomiese werklikhede. Met verwysing na die emosie wat opgewek word met naamsveranderinge in ’n land, het hy Potchefstroom voorbeeld aangehaal, hoe daar by wyse van onderhandelinge by wen-wen oplossing uitgekom is.
10 Mei 2012