‘n Dringende plan oor die vraagstukke rondom grondhervorming is nodig om krisisse te voorkom, sê Agri SA.
Die tema, asook die bedreigings wat myne vir veral landbouproduksie in Mpumalanga inhou, is in diepte by die organisasie se jaarkongres in Johannesburg bespreek.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter, sê soos wat die Regering se beleide en voorgestelde beleide nou daar uitsien, gaan Suid-Afrika oor ‘n paar jaar ‘n vorm van nasionalisering op hande hê. “Dit kan wees dat wit kommersiële boere private grond gaan besit, terwyl baie swart boere grond by die staat sal moet huur. Wat is dit anders as ‘n sagte vorm van nasionalisering?
“Ons belewe nie almal die hede dieselfde nie, en ons het ook nie almal die pad tot hiertoe dieselfde beleef nie, maar ons gaan ‘n pad moet uitwerk wat anders is as die een wat nou uitgelê word,” vertel De Jager.
Markpryse vir grond
Wat markwaarde vir plase betref, sê De Jager dit is duidelik dat die staat nie markwaarde wil betaal vir grond wat deur die grondeise-proses opgeëis is nie. “ ’n Mens hoor dit in beleidsvergaderings wat tussendeur in debatte uitgeskree word. Mense dink grond is gesteel en as hulle markwaarde daarvoor betaal, voel dit nie asof dit teruggeneem word nie.”
Volgens De Jager bestaan twee opsies om die situasie rondom grond te hanteer. Eerstens kan konfrontasie gebruik word. “As ons as Agri SA wil, kan ons die handrem optrek en samewerking weerhou, en so die Regering verswak en baie destruktief wees. Die tweede is om konstruktief saam te werk, te onderhandel en oplossings te soek, maar dit is duidelik dat ‘n baie, baie dringende plan en alternatief nodig is.”
Myne in Mpumalanga
Intussen het verskeie boere wat in Mpumalanga boer, kommer uitgespreek oor die invloed wat mynwerksaamhede op produksie in dié provinsie het. Volgens mnr. Koot Claassen, voorsitter van Agri Mpumalanga, het dié myne nie net ‘n invloed op die padinfrastuktuur, grondregte en eiendomsregte nie, maar dit kan ook voedselsekuriteit in die toekoms beïnvloed.
“Stof en roet kom op plase voor, water loop sommer op plekke waar daar nie vroeër water geloop het nie. Suurreën het ook ‘n groot invloed. Ons moet elke 18 maande heinings vervang wat deurgeroes is én dit veroorsaak grondversuring - drie keer meer kalk moet deesdae toegedien word as wat normaalweg nodig was,” vertel Claassen.
13 Oktober 2011