As grondhervorming misluk, sal die landbou in Suid-Afrika misluk. As transformasie op plase nie slaag nie, gaan daar nooit vrede kan wees nie, sê dr.Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA.
Hy het op Kwanalu se kongres gesê om alle aspekte van die Regering se grondhervormingsplanne te kritiseer, gaan geen oplossings bied nie. Daar moet aan die Regering ’n uitweg gebied word om met eer uit die stryd te tree.
“Die ANC en sy ondersteuners is almal saam in een bootjie. Ons sal almal saam moet swem óf saam moet sink. Ons sal dit moet laat werk en ons het net een geleentheid oor.
"As ons dit laat verbygaan, het ons die kans verspeel. Om te oorleef, is die belangrikste motief. Daarom moet ons met ’n plan vorendag kom. As die Regering dit op sy eie kon regkry het, sou hy dit al gedoen het.”
Uitdagings
De Jager sê nes oorloë en rampe talle generasies in die gesig staar, is die uitdaging van die huidige geslag waarskynlik om van grond en ander hervorming ’n sukses te maak. Dit sal ’n groot uitdaging stel aan boere se aanpassingsvermoë en hulle sal hulself uit die verknorsing moet bestuur.
Hy sê in al sy pogings van die afgelope ses jaar het Agri SA dalk nog geen tree gewen nie, maar in die proses seker gemaak hy het ook nie ’n tree verloor het nie.
“Dit is egter nie volhoubaar nie. Iets sal prysgegee moet word. Wat belangrik is, is of dit binne beheer gaan geskied en of die besluit buite boere se beheer geneem gaan word.”
3 Oktober 2011